Local newsMunicipalNews

Een van Heidelberg se bekendste landmerke agter tralies

Inwoners wat onlangs verby die AG Visserhuis op die hoek van Van der Westhuizen en HF Verwoerdstrate in Heidelberg gery of gestap het, sou opmerk dat een van die dorp se bekendste landmerke ietwat anders vertoon.

Heidelberg – Volgens die uitvoerende hoof van Historiese Huise Suid-Afrika, Pieter Kotzé word daar binnekort met herstel- en opknappingswerk by die AG Visserhuis begin en om die eens pragtige gebou tot sy volle glorie te herstel, moet daar aan die streng vereistes van die Nasionale Erfenisraad voldoen word.

“Die doel van die staalraam is om die beeld te beskerm teen diefstal asook beskadiging tydens restourasie wat eersdaags begin,” het Kotzé verduidelik.

Gedurende Julie het Kotzé in ‘n persverklaring gesê dat ‘n gedeelte van die AG Visserhuis in 2019 moontlik in ‘n mediese praktyk omskep gaan word.

Remgro, die sambreelmaatskappy waaronder Historiese Huise Suid-Afrika val, het verlede jaar daarin geslaag om eienaarskap van die AG Visserhuis terug te kry nadat die gebou deur Lesedi Plaaslike Munisipaliteit verwaarloos is.

 

Die AG Visserhuis was in die laat tagtigs deur Remgro (toe Rembrandt) onder die bewaring van die plaaslike regering geplaas.

“Ons het verlede jaar daarin geslaag om weer eienaarskap van die grond en geboue terug te kry en ons beplan om ‘n gedeelte van die huis in ‘n mediese praktyk te omskep, terwyl daar ook voorsiening gemaak sal word om van die kamers in die hoofhuis as museum te benut,” het Kotzé vroeër vanjaar aan HERAUT verduidelik.

 

Die aansoek om die eiendom as ‘n besigheidsperseel in Heidelberg te hersoneer is reeds maande gelede ingedien, maar dit kan volgens Kotzé tot ‘n jaar neem om afgehandel te word.

 

Intussen is daar in alle erns met die skoonmaak van die perseel en tuine begin.

Volg ons:

Facebook

Twitter

 

Related Articles

Back to top button