News

SAPD fynkam Jordaan woning vir leidrade

Meer as 13 skote op Heidelberger se huis gevuur

Jaco Jordaan (eienaar van Access Properties Heidelberg) se huis in Heidelberg Sentraal was tot laatoggend ‘n miernes met SAPD-lede wat die toneel gefynkam het vir leidrade nadat ‘n onbekende persoon omstreeks 04:00 vanoggend (7  Augustus) op die woning met ‘n outomatiese wapen losgebrand het.

 

Alhoewel niemand tydens die voorval beseer is nie, kan mens aanvaar dat dit traumaties vir die Jordaan-gesin was. Jordaan is sedert Februarie  in die nuus nadat hy op 22 Februarie in verband met beweerde bedrog deur die Valke gearresteer is.  Hy is sedert 25 Mei op borg vrygelaat.

 

Volgens die Valke in Germiston se woordvoerder Kaptein Carol Mulamu, duur die ondersoek voort en sal Jordaan se saak weer op 28 Augustus in die Secunda Streekshof voorkom.

 

Jordaan se arrestasie volg nadat beleggers van ondermeer Kriel, Secunda, Vanderbijlpark en Kempton Park na vore gekom het en hul kommer oor fondse wat hulle glo deur Jordaan belê het, uitgespreek het.  Die sondagkoerant Rapport het ook op 25 Februarie berig gelewer oor Jordaan se beweerde piramiedskema waarin talle mense groot bedrae geld belê het.

 

Sedert uitbetalings aan die einde van verlede jaar nie gedoen is nie, het beleggers begin gevaarligte sien en Jordaan is kort daarna op aanklag van bedrog en ‘n beweerde piramiedskema gearresteer.

 

Die ondersoek duur steeds voort – en daarom is bedrae van beleggings nog nie aan die media bekendgemaak nie. Volgens beleggers beloop dit miljoene rande.

 

Die polisie het nog nie ‘n persvrystelling uitgereik nie, en daar is nog geen inligting rakende die skietvoorval bekend nie. HERAUT sal verdere inligting voorsien sodra dit bekend word.

 

Skote klap by Jaco Jordaan se huis

 

Volg ons:

Facebook

Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button