AG Visser huis binnekort weer tot volle glorie herstel

Projek behoort teen einde 2019 voltooi te wees

Een van Heidelbergs se mees bekende landmerke gaan nog vir ‘n wyle leegstaan terwyl ‘n hersoneringsaansoek afgehandel word.
Dit is volgens die uitvoerende hoof van Historiese Huise Suid-Afrika, Pieter Kotzé wat bekend gemaak het dat die digter Dr AG Visser se huis weer in ‘n mediese praktyk omskep gaan word.

“Ons het verlede jaar daarin geslaag om weer eienaarskap van die grond en geboue terug te kry en ons beplan om ‘n gedeelte van die huis in ‘n mediese praktyk te omskep, terwyl daar ook voorsiening gemaak sal word om van die kamers in die hoofhuis as museum te benut,” het Kotzé aan HERAUT verduidelik.

Die aansoek om die eiendom as ‘n besigheidsperseel te hersoneer is reeds maande gelede ingedien, maar dit kan tot ‘n jaar neem om afgehandel te word. Daarna kan die herstelwerk in alle erns begin.

Om die eens pragtige gebou tot sy volle glorie te herstel, is egter nie so eenvoudig nie. Daar moet aan die streng vereistes van die Nasionale Erfenisraad voldoen word en as daar in ag geneem word hoeveel skade daar aan die infrastruktuur is, gaan die opknapping ook nie oornag gebeur nie.

Kotzé is egter vol moed dat die projek teen einde 2019 afgehandel sal wees. Intussen sorg Historiese Huise Suid-Afrika steeds vir die veiligheid en instandhouding van die geboue.

Remgro, die sambreelmaatskappy waaronder Historiese Huise Suid-Afrika val, het verlede jaar daarin geslaag om eienaarskap van die AG Visserhuis terug te kry nadat die gebou deur Lesedi Plaaslike Munisipaliteit verwaarloos is.

Die AG Visserhuis was in die laat tagtigs deur Remgro – toe Rembrandt – onder die bewaring van die plaaslike regering geplaas.

 

Volg ons op:

Facebook

Twitter

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version