Local newsNews

Life Suikerbosrand Hospitaal in top 20 nasionaal

Toewyding tot kwaliteit sorg dra vrugte.

Life Suikerbosrand Hospitaal is deur die Discovery Health Pasiënt Opname as een van die top 20 hospitale in Suid-Afrika aangewys.

Hierdie is ‘n besondere prestasie as daar in ag geneem word dat die opname by elke hospitaal in die land gedoen is.

Life Suikerbosrand Hospitaal het reeds jare gelede die doelwit om as een van die bestes beskou te word, daargestel en was al telkemale op die drumpel van hierdie elite groep versorgers.

Volgens Cora Muller, hospitaalbestuurder, lê die geheim tot hul sukses in spanwerk, aangesien alle aspekte van die diens wat gelewer word net die beste moet wees.

“Ons personeel is ons grootste bate en dit is weens hul toewyding tot kwaliteitsorg dat Life Suikerbosrand Hospitaal saam met die top hospitale in die land geklassifiseer is,” het Muller gesê.

Sy meen dat daar na elke pasiënt se behoeftes omgesien moet word – van die oomblik wat hulle by die hek instap, tot hulle weer terugkeer huis toe.

Dit beteken dat nie net die dokters en mediese personeel ‘n uitstekende diens moet lewer nie, maar dat elke lid van die span – van die sekuriteitswagte tot die skoonmakers – hoflik en behulpsaam teenoor elke person wat die hospitaal besoek, moet wees.

Die vereistes waaraan die hospitaal moes voldoen om in aanmerking vir hierdie elite groep te wees, is ook uiters streng en volgens Muller was die skep van ‘n werksomgewing waarin almal deel van ‘n span voel, uiters belangrik.

“Hierdie hospitaal is ‘n spesiale plek om te werk. Mense geniet dit hier en ons het al oor tyd gesien dat ons personeel dikwels terugkeer nadat hulle by ander instansies buite die dorp werksaam was. Hier is ons ‘n familie wat vir mekaar omgee.

 

Verskeie programme is ook ingestel om dienslewering te verbeter.

  • Dit sluit in die Life Healthcare CARE program wat fokus op interaksie met pasiënte in ‘n deurdagte, bedagsame en barmhartige wyse.
  • Verbeterde infeksiebeheer en voorkomingsprogramme
  • Infeksiebeheer en kontrole
  • Die Life Healthcare BetterObs program wat op verloskunde fokus
  • Kardiale uitnemendheid
  • Die QUIET inisiatief wat op die geraasvlakke in die hospitaal fokus
  • Muller is dit ook eens dat hierdie besondere prestasie nie sonder die ondersteuning van die gemeenskap wat hul dien, behaal sou word nie.

“Dit is vir ons belangrik dat Heidelbergers met trots oor hul en ons hospitaal kan gesels en vertroue het in dit wat ons dag en nag hier verrig.”

Sy meen dat elke lid van die Life Suikerbosrand personeel gereeld daaraan herinner word dat die persoon wat in hulle sorg is netsowel ‘n familielid kon wees en dat hulle die persoon soos een moet hanteer.

Daar is ook die wete dat die prestasie nie beteken dat daar nou geleentheid is om op die louere te rus nie. Muller reken dat daar altyd ruimte vir verbetering is en erken dat die hospitaal ook sy foute het, maar dat hulle toegewyd is tot konstante verbetering.

“Hoewel hierdie pluimpie baie goed vir die moraal van ons personeel is, weet almal dat die harde werk voortgesit moet word en dat ons elke beweging nou onder die mikroskoop is.”

Life Healthcare se uitvoerende hoof, Lourens Bekker, het groot lof oor die hospitale in sy groep uitgespreek en was in sy noppies dat hulle 40% van die top hospitale verteenwoordig.

“Die uitslag van die Discovery opname is ‘n besonderse prestasie en ek wil elke hospitaalbestuurder, personeel en die betrokke kwaliteitspanne erkenning gee dat hulle Life Healthcare se mikpunt tot verbetering en die beste pasiënt ervaring so goed ondersteun het.”

Follow us on:

         

Facebook      Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button