Heidelberg se tronkvoëls boet binnekort vir hul fiktiewe misdade by Ou Tronk

LCC het onlangs ‘n beplanningsraad afgevaardig om ‘n aantal leiers in die plaaslike gemeenskap te identifiseer wat op 27 Julie gearresteer en by die Ou Tronk toegesluit sal word.

‘Jail or Bail’ is ‘n fondsinsamelingsinitiatief ten bate van Lesedi Community Centre (LCC) en word op 27 Julie in samewerking met die polisie en bestuur van die Ou Tronk aangebied.

Na die arrestasie sal hulle voor ‘n regter verskyn en vir hul fiktiewe misdade beboet word. Daarna word die tronkvoëls in die Ou Tronk se selle aangehou waar hulle vriende, familie of kollegas kan bel om hul borg (kontant of blikkieskos) te betaal. ‘n Gedeelte van die fondse wat ingesamel word, sal vir die Heidelberg Eenheidsparade se blikkieskosprojek aangewend word.

Volgens Jaco Kritzinger word die inisiatief heelhartig deur die polisie ondersteun en dien ook as sosiale misdaadvoorkomingsveldtog. Daar word beplan om leerders van die plaaslike skole ook by die veldtog te betrek en meer besonderhede daaroor sal later bekendgemaak word.

Lede van die publiek is welkom om die geleentheid op 27 Julie by die Ou Tronk by te woon en bydraes van nie-bederfbare blikkieskos word verwelkom.

Vir meer besonderhede, skakel Jaco Kritzinger by 072 575 0081 of Lezanne by 084 854 1897.

Volg ons op:

         

Facebook      Twitter

Exit mobile version