News

Maak ’n regte-egte lappop en wen ’n vakansie

Wen ’n vakansie op Orania met jou lappop.

Solidariteit Helpende Hand se tak op Orania wil die land bietjie nostalgies laat voel met hulle splinternuwe kompetisie. Hulle daag alle naaldwerksters uit om ’n spog lappop aanmekaar te sit, want vir die mooiste lappop is daar ’n vakansie op die spel.

 

Lappoppe is deel van baie mense se kindertyd en bring ’n gevoel van heimwee en vertroosting vir almal wat haar vashou. Daarom wil die Helpende Hand-tak op Orania soveel lappoppe as moontlik insamel en terselfdertyd naaldwerksters die geleentheid gee om hulle vaardighede ten toon te stel.

 

Daar is twee kategorieë in die kompetisie: Outydse lappop en hedendaagse lappop, elk met spesifieke reels wat sal verseker dat jou lappop ’n meesterstuk is. Ingeskrewe lappoppe word die eiendom van Helpende Hand Orania wat dit sal verkoop vir fondse. Fondse sal gebruik word vir die versorging van kinders in veilige bewaring en om aan hulle die geleentheid te gee om deel te wees van ʼn koesterende gesin. Sommige lappoppe mag deur Helpende Hand Orania as geskenke aan kinders uitgedeel word.

 

Volgens Magdaleen Kleynhans, takvoorsitter in Orania is hulle fokus in 2018 op gesonde gesinne.

 

“Vir ons beteken dit gesinne waar élke lid ʼn veilige plekkie het en élke lid kan groei en blom! ʼn Lappop kan vir ʼn kind vertel hoe waardevol sy of hy is,” sê Kleynhans. “Help ons om die boodskap van koesterende gesinne dwarsoor Suid-Afrika uit te dra deur ʼn lappop in te skryf en dalk ʼn opwindende prys te wen!”

 

Die kompetisie sluit 15 September 2018, so spring dadelik weg met jou lappop.

Eerste prys:

’n Week se vakansie op Orania vir ’n gesin van ses propvol ekstra verrassings!

Tweede prys:

’n Naweek vir twee op Orania propvol ekstra verrassings!

Vir meer inligting kontak Magdaleen of Esme op 053 207 0108 of besoek www.helpendehand.co.za/lappop.

Related Articles

 
Back to top button