Tuiste se oudste inwoner sterf op 100 jaar

Nigel Tuiste vir Bejaardes se oudste inwoner Piet Kruger is op 6 Julie in die ouderdom van 100 jaar oorlede.

Hy is op 5 November 1917 in Roodekop gebore en het hom gedurende 1950 as bouer in Nigel gevestig. Van sy bouwerk sluit die tegniese skool in Rustenburg, talle woonhuise in Nigel, asook die plaaslike inkomstediens (SARS) se gebou in. Gedurende die sewentigerjare was hy ook by die Hartebeespoortdam-projek betrokke en het dikwels met trots van sy aandeel in dié geskiedkundige projek vertel.

 
Uit sy huwelik met Martha is vier dogters en twee seuns gebore. Sy vrou is in 1988 oorlede. Piet het ook 18 kleinkinders, 24 agterkleinkinders en twee agter-agterkleinkinders.
HERAUT het hom dikwels by die tuiste besoek waar hy altyd met ‘n vonkel in die oog ‘n grap of twee gedeel het.

 

Hy het ook trots vertel dat hy nooit onder die mes was nie en dat hy “te besig was om ooit ‘n ernstige siekte op te doen.”

 

Tyd vir stilsit was daar min, want Piet het graag sy hand by plaaslike projekte gevoeg om ‘n verskil in die lewens van ander te maak. Sy selfgemaakte houtspeelgoed was ‘n gewilde item by die tuiste se jaarlikse kermis en dit het sommer vinnig uitverkoop.

 

Sy kamer was ook volgepak met items wat wissel van bedlampe, koffietafels, houtkissies en speelgoed wat hy tydens sy verblyf by die tuiste gemaak het.
Piet was ‘n getroue kerkganger en ‘n groot inspirasie vir ander. Tydens sy verblyf by Nigel Tuiste vir Bejaardes het hy sterk vriendskapbande gesmee en ook diep in die harte van personeel en bestuur gekruip.

 

Volgens sy dogter Liefie was Piet ‘n lewenslustige en gesonde mens maar het sy gesondheid oor die afgelope ses maande versleg.
Tydens sy eeufeesherdenking verlede jaar, het Piet ‘n pretloop van ongeveer 1km aangedurf om fondse vir die tuiste in te samel.

 

HERAUT het die groot makietie op 4 November bygewoon waartydens vriende, familie en mede-inwoners hul drafskoene aangetrek het om dié doel te ondersteun.

 

Nagenoeg R10 000 is tydens die pretloop ingesamel wat later vir algemene opknappingswerk by die tuiste aangewend is. Hy laat sy seun Hennie, dogters Liefie, Meisie en Hanna agter. Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.

 

Hier glimlag Piet Kruger saam met vriende en familie vir die kamera tydens sy eeufeesviering in November 2017, nadat hy ‘n pretloop van ongeveer 1km vir fondsinsameling aangedurf het. Naaslinks is sy seun Hennie en regs sy dogter Liefie Oosthuizen.
Exit mobile version