CrimeNews

Belangrikrikheid van gestruktureerde GPF tydens inligtingsvergadering bespreek

‘n GPF inligtingsvergadering wat op 28 Junie by Nigel Stadsaal aangebied is, is deur honderde belangstellendes uit die plaaslike gemeenskap bygewoon.

Die vergadering is deur Nigel GPF patrolliehoof Alwyn van den Heever tot orde geroep, waarna hy die noodsaaklikheid van ‘n behoorlik gestruktureerde forum verduidelik het. Hy het bygevoeg dat GPF-lede in die voorkoming van misdaad geen polisiefunksies mag uitvoer nie en dat hulle ook geen bevelsmagte oor die Polisie het nie, maar dat die GPF onder die sambreel van die Polisie funksioneer.

 

“Dit is belangrik dat alle voorskrifte nagekom word sodat die vennootskap vir gemeenskapsveiligheid meer effektief binne die wet se bedoelde raamwerk uitgeleef kan word,” het hy gesê.

 

Van den Heever het veral aandag geskenk aan die rol van die gemeenskap in polisiëring in terme van veiligheidstrukture en het inwoners genooi om as vrywilligers hul gewig by die plaaslike patrolliediens in te gooi.

 
Ter bevestiging dat dit nie ‘n verkiesingsvergadering was nie, het hy sewe vrywilligers uit Sektor 1 en 2 genooi om hulself as stuurslede vir ‘n stuurkomitee verkiesbaar te stel. Die stuurkomitee moet ‘n konstitusie saamstel en weer ‘n publieke vergadering saamroep waartydens die konstitusie aanvaar en ‘n oorhoofse GPF bestuursraad gekies moet word.

 
Die vergadering is met ‘n vraag-en-antwoord sessie afgesluit, waarna belangstellendes geleentheid gegun is om ‘n gelisensiëerde tweerigting radio aan te skaf en as vrywilligers by die GPF patrolliediens aan te sluit.

 
Volgens Van den Heever bly dit die verantwoordelikheid van Nigel SAPD se stasiebevelvoerder om die GPF te stig deur die publiek na ‘n stigtingsvergadering te nooi sodra die stuurkomitee uit die verskillende sektore saamgestel is.

 
Datums vir die onderskeie sektorvergaderings is op 28 Junie tydens ‘n spesiale vergadering by Nigel Polisiestasie bespreek en besonderhede daarvan sal in HERAUT gepubliseer word sodra dit beskikbaar is.

 
Vir meer inligting oor Nigel GPF patrolleerders, skakel Delia by 082 553 8826 of indien jy by Nigel GPF wil aansluit, skakel Nigel SAPD by 011 812 6503/11.

 

Volg ons:

Facebook

Twitter

Related Articles

Back to top button