CrimeLocal newsNews

Plaasmoordenaar skuldig bevind

Smuts-familie hoor dié maand hoe lank Mthembu (29) gaan sit

Amos Mthembu (29) is is op 27 Junie in die Delmas Hooggerregshof op die moorde van Gert Smuts (78) sy vrou Paulina (71), hul seun Louis (47) en skoondogter Belinda (42) deur regter Tule-Tu Tonjeni skuldig bevind.

 
Buiten die vier klagte van moord is hy ook op een van roof met verswarende omstandighede, onwettige besit van ‘n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie skuldig bevind.

 
Die Smuts gesin is  tussen 13 en 14 Februarie 2017 op hul plaas Modderbult buite Balfour deur hul tuinwerker wat vir twee jaar vir hulle gewerk het, vermoor.

 
Hoewel die weergawe wat Mthembu tydens sy pleit in die hof gelewer het nie noodwendig ooreenstem met dit wat hy vroeër aan die gesin bekend gemaak het nie, word daar vermoed dat hy op 13 Februarie eers vir Gert agter die woonstel waar hy en Paulina gewoon het, geskiet het.

 
Hy het die ou man met ‘n kombers toegegooi. Daarna het hy vir Paulina vasgebind en gemartel. Volgens lede van die gesin het die egpaar nog nie hul oggend roetiene voltooi voor hulle oorval is nie.
Mthembu het getuig dat hy die vuurwapen uit die kluis in die hoofhuis gesteel het. Hy het aangevoer dat hy die gesin vir geld gevra het om die naweek ‘n begrafnis te reël vir ‘n lid van sy meisie se gesin en dat hulle hom nie wou help nie.

 
Hy het getuig dat hy die 9mm vuurwapen gevind het toe hy vir geld in die kluis gesoek het. Paulina is eers in die hoofhuis op ‘n stoel vasgebind. Haar een hand was aan haar gesig vasgebind en volgens ‘n familielid was een vingernael van haar regterhand  los terwyl een vinger aan haar linkerhand gebreek was.

 
Haar lyk is later in een van die slaapkamers van die huis op ‘n matras gevind. Hoewel Mthembu op al die moord aanklagte en onwettige besit van vuurwapen en ammunisie skuldig gepleit het, het hy aangevoer dat hy nie Paulina verkrag het nie.

 
Regter Tonjeni het egter tydens haar uitspraak hom ook aan dié daad skuldig bevind en gesê dat dit waansinnig is om te dink dat die 71-jarige dame hom sou vra om met haar omgang te hê.

 
Belinda het die middag omstreeks 13:00 van haar werk in Balfour af teruggekeer. Mthembu het getuig dat hy die gevriesde hoender wat sy vir hom van die dorp af saamgebring het, ontvang het.

 
Hy het na bewering haar by die hoofhuis ingewag en vasgebind. Mthembu het getuig dat hy by haar ‘n bankkaart geneem het en sy (teen haar wil) die kode vir hom gegee het. Hy het die volgende dag R3000 uit die rekening onttrek.

 
Louis het omstreeks 18:30 by die huis aangekom. Mthembu het getuig dat hy die 47-jarige by sy bakkie ontmoet het, hom weer vir geld gevra het en toe hy dit nie ontvang het nie, het hy hom op die stoep voor die agterdeur geskiet.

 
Louis is agter in sy kop geskiet terwyl hy besig was om sy huissleutels uit te haal. Sy liggaam is met ‘n bakkieseil toegegooi. Belinda is twee keer in die kop geskiet. Een skoot was met die 9mm pistool, maar sy is ook met ‘n .22 geweer  in die slaap geskiet.

 
Die Smuts gesin het vertel dat sy gedurende die vroeë oggendure  (ongeveer 03:20) van 14 Februarie haar werkgewer geskakel het. Sy was baie deurmekaar en het gevra of sy medikasie mag drink.
Belinda se liggaam is die volgende oggend op die rusbank in die sitkamer gevind.

 
Mthembu het in sy getuienis gesê dat sy vir hulle kos gemaak het en dat hulle saam televisie gekyk het voor hy moeg geword het en haar toe doodgemaak het.

 
Die Smuts gesin meen dit is ook snert aangesien daar geen teken was dat enigiemand oor die twee dae kos probeer maak het nie.

 
Mthembu het die oggend van die 14de Februarie Louis se Prado geneem en dorp toe gery. Hy het ‘n verskeidenheid skootrekenaars, ‘n rekenaar en selfone wat hy gesteel het saam met hom geneem en daarvan vir ‘n appel en ‘n ei in die dorp verkoop.

 
Daar het hy mede-beskuldigde Prince Mngomezulu (27) by sy huis in die lokasie opgetel en hom vertel dat hy “met die boere baklei het” en hulle doodgemaak het.

 
Die twee het by ‘n kafee oorkan die hotel in Balfour gesit en pasteie eet toe die polisie op hulle afgekom het. Mngomezulu het prober weghardloop en is in die been gewond.

 
Hy het skuld op die moorde ontken, maar is aan die besit van gesteelde goedere skuldig bevind.
Die saak is tot 27 Julie uitgestel wanneer die twee bes moontlik gevonnis sal word.

 

 

Volg ons:

Facebook

Twitter

https://www.citizen.co.za/heidelberg-nigel-heraut/21475/gesin-op-plaas-vermoor/

Related Articles

Back to top button