Local newsNews

My 92ste verjaardag ‘n wonderwerk

Johan vertel oor vier hartaanvalle wat hy oorleef het

Johan van der Merwe van Eeufeespark Aftree Oord beskou die 92ste herdenking van sy geboortedag as ‘n wonderwerk en genade van Bo.
Van der Merwe wat in 1927 op Bossiespruit in die Vrystaat gebore is, het dié mylplaal op 21 Junie bereik.

 

“Dit is eintlik ‘n wonderwerk dat ek leef, want ek het al vier hartaanvalle oorleef,” het hy tydens HERAUT se besoek gesê.

 

Sy pa het in die ouderdom van 65 jaar gesterf en volgens Van der Merwe is hy die langslewende lid van hul familie. Hy was die jongste van vyf kinders en voor sy laerskoolloopbaan by ‘n plaasskool in Rietkuil (Hendrina-distrik) begin het, het hy Wonderfontein se velde platgespeel.

 
Na skool het hy vir ses maande geboer voor hy as treindrywer by die destydse Suid-Afrikaanse Spoorwegdiens aangesluit en na Sundra verhuis het. Dit is ook waar hy sy eerste vrou ontmoet het en vyf kinders is uit hul huwelik gebore. Na die afsterwe van sy vrou het Van der Merwe in 1986 afgetree, maar hy was nie een vir stilsit nie en het later by Sappi in Springs begin werk.

 
Hy is vir die afgelope 31 jaar met Hendrina (Poppie) getroud en het Nigel 14 jaar gelede hul tuiste gemaak. Bedags hou hy homself met syferspeletjies soos Sudoku besig en sê hy is ook lief daarvoor om in die tuin te vroetel wanneer die weer dit toelaat.

 
Behalwe vir gehoorprobleme, is Van der Merwe blakend gesond. Hy maak nog elke dag die huis skoon en is ‘n behendige nutsman wat allerlei takies in en om die huis self verrig.

 

“Ek is net spyt oor een ding en dit is dat ek my voertuig jare gelede verkoop het. Ek mis dit om self te bestuur, om te gaan waarheen en wanneer ek wil” het hy gesê.

 

Teen ‘n muur in een van die vertrekke van sy huis pryk talle geraamde foto’s van glimlaggende mense en sy gelaat versag wanneer hy oor sy kinders en 11 kleinkinders begin gesels.

 

“Ek weet nie hoeveel daar is nie, maar ek het ook ‘n paar agterkleinkinders,” het hy gespog.

 

Sy nuwe lewensjaar is deur talle gelukwensings van vriende en familie begroet.

Related Articles

Back to top button