Heidelberg se ryk geskiedenis moet benut word.

Bemark en preserveer sê Du Plooy

Met toerisme as die besprekingspunt,  kon Heidelberg Besigheidskamer nie ‘n beter lokaal as die Ou Tronk vir hul ledevergadering op 12 Junie gekies het nie. Die gebou huisves tans die enigste museum in die dorp en die noodsaaklikheid om dié geskiedkundige gebou en sy inhoud te beskerm, kan nie genoeg beklemtoon word nie.

 

Heidelberg se sakelui het die koue (en natuurlik vir Harry – die Ou Tronk se oudste “inwoner”) trotseer om meer van die dorp se toerisme aantreklikhede en potensiaal om dit as bemarkingsmiddel aan te wend, te kom hoor.

 

Nadat die vergadering deur Van Zyl Schultz (voorsitter van Heidelberg Besigheidskamer) geopen is, het Roy Rawlins die vloer gekry waar hy die sakelui meer oor CASI (‘n slimfoon toepassing) vertel het wat soos ‘n paniekknoppie aangewend word. Verskeie sekuriteits- en nooddienste word dan na die persoon in nood gestuur, afhangende van die noodgeval.

 

Hierna het lede reggeskuif om na Stoffel du Plooy te luister wat op sy beurt Heidelberg se toerisme juwele blootgelê het. Vir diegene wat al ‘n dekade of langer lid van die Besigheidskamer is, was niks wat Du Plooy gesê het nuus nie. Hy het weereens dit uitgelig dat die dorp se ligging Heidelberg op een van die prominentste plekke in die land plaas.

 

Met maklike toegang tot die N3 snelweg en skaars 40 minute se ry vanaf OR Tambo Internasionale Lughawe en Johannesburg, het Heidelberg baie om te bied aan die sakewêreld sowel as toeriste.
Du Plooy het weer benadruk dat dit die inwoners se plig en verantwoordelikheid is om Heidelberg se gedenkwaardige geboue te behou. Hy het gemeld dat dit nie noodwendig die eienaar van dié geboue – wat Lesedi Plaaslike Munisipaliteit is – se prioriteit is om dit te beskerm of in stand te hou nie.

 

Daar word nie in die begroting ag geslaan op instandhoudingskostes nie en dus sal dié monumente met tyd verval tot daar niks meer vir nageslagte oor is om te besoek nie. Nog ‘n donker wolk wat oor Heidelberg hang, is die moontlikheid dat dieselfde Johannesburgse maatskappy wat in 2016/17 die AG Visserhuis by Lesedi Plaaslike Munisipaliteit sou huur vir ‘n 66-jaar termyn, nou ook sy oog op die Ou Tronk het.

 

HERAUT het destyds van betroubare bronne verneem dat LPM sekere beloftes aan Tecino Architects and Interior Designers gemaak het wat betref die huur van die AG Visserhuis, maar dat die ooreenkoms deur die Nasionale Tesourie onwettig verklaar is. Almal weet wat van die AG Visserhuis geword het – Heidelberg is danksy LPM se wanbestuur van dié eiendom dit kwyt.

 

Die Pretoria Hooggeregshof het op 18 Oktober 2016 bevind dat LPM misluk het om by die voorwaarders in hul huurooreenkoms met Helderwaters (Pty) Ltd (aan wie die gebou behoort) te hou. Die hof het beveel dat die sleutels van die AG Visserhuis dus aan die eienaar terugbesorg moes word.

 
Heidelberg loop nou die risiko om nog ‘n geskiedkundige gebou te moet afstaan aan Tenico. Dit blyk of LPM die Ou Tronk aan die maatskappy verhuur het. Wat die terme, voorwaardes en termyn van die kontrak behels, weet niemand nie. Huidiglik word die gebou deur die MOTHs se Suikerbosrand Shellhole beset en in stand gehou. Hulle weet egter gladnie watter dag hul laaste dag hier sal wees nie.

 

“Ons dorp het ‘n ryk geskiedenis en dit kan ‘n reuse-aanwins vir Heidelberg wees in die vorm van toerisme as ons dit bloot begin bemark en preserveer, het Du Plooy afgesluit.

 

Evert Pistorius het na afloop van Du Plooy se insette ‘n paar van die Ou Tronk se staaltjies en geskiedenis met die besoekers gedeel. Die tronk bestaan sedert 1867, maar in 1878 was die gebou en dak in so haglike toestand dat dringende herstelwerk deur die destydse landdros Ueckermann van die staatsekretaris geëis is. Sakelui het lekker gelag toe Pistorius ‘n uittreksel uit een van Ueckermann se skrywes aan die staatsekretaris vertel het.

 

Twee gevangenes het blykbaar een nag in Oktober 1878 stilletjies die deur van die tronk verwyder (die bakstene was so los) en by ‘n winkel in die dorp ingebreek. Die polisie het die twee ontsnaptes heel per toeval raakgeloop met hul terugkeer na die tronk waar hulle doodluiters besig was om die deur weer netjies terug te hang. Hierna het herstelwerk begin wat  bykans 10 jaar geduur het voordat die tronk vir die tweede keer in 1888 amptelik heropen is.

 
Besoekers het deur die verskeie vertrekke gestap en kon die wrede stortstelsel bekyk asook die oorspronklike put-toilet en buitestort in die blok waar vroue gevangenes aangehou was. ‘n Ongelooflike versameling van kommunikasie- en ander toerusting wat in die oorlogjare gebruik is, het ook talle sakemanne se asems weggeslaan.

 
Dit is duidelik dat Heidelberg se inwoners, sakelui en en erfenis assosiasie vinnig sal moet moue oprol sou hulle die Ou Tronk (en die res van die dorp se geboue en monumente) vir die nageslagte wil red.

 
Die vergadering is met borde stomende potjiekos wat deur die Suikerbosrand Shellhole se lede voorberei en deur Emis Sekuriteit geborg is, afgesluit.

 
Die volgende vergadering vir Heidelberg Besigheidskamer vind op 10 Julie plaas. Lede gaan ‘n taverne in Ratanda besoek en dit beloof ‘n onvergeetlike gebeurtenis te wees. Vir meer omtrent dié byeenkoms, skakel Schultz by 082 560 2275.

 

Evert Pistorius (Old Bill van die Suikerbosrand Shellhole) het oudergewoonte sy plek agter die potte ingeneem en gesorg dat Besigheidskamerlede met vol mae huis toe is na afloop van hul vergadering. Emis Sekuriteit was die aand se eteborg.

 

Volg ons:

Facebook

Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version