Local newsNews

Bikers besoek Ou Tronk

Dit was nie onweer wat Heidelbergers tweekeer laat kyk het omstreeks 11:00 op 9 Junie nie.

Die onvanpaste gedreun op dié koue wintersoggend het die aankoms van ‘n groep lede van RBA Wolfs Motorfietsklub op hul ysterperde aangekondig wat hul dag by die Ou Tronk in Jordaanstraat kom spandeer het.

 
Die Ou Tronk, wat deur die MOTHs Suikerbosrand Shellhole beset, bestuur en instandgehou word, het oor die afgelope agt jaar ‘n gewilde besoekplek vir veral motorfietsklubs van Gauteng en omliggende gebiede geword. Die ryk geskiedenis van dié ou gebou wat sedert 1867 in Heidelberg staan, lok talle besoekers na die dorp en wat hulle hier hoor en beleef laat hulle keer op keer terugkom met nuwe besoekers aan hul sy.

 
Evert Pistorius (Old Bill van Suikerbosrand Shellhole) het die groep deur verskeie vertrekke geneem en sy vertellings oor gebeure wat honderde jare terug hier afgespeel het, het sommige van die hardebaarde in leerbaadjies se nekhare laat regop staan. ‘n Draai deur die museum waar van die mees indrukwekkende kommunikasie toerusting van vervloë oorlogdae nog in werkende orde besigtig kan word, het ook diep indruk op die besoekers gemaak.

 

Diegene wat bietjie meer  braaf was, het Pistorius vergesel deur koue, donker tronkkamers en ander vertrekke wat as ‘n hospitaal gedien het  en versigtig oor hul skouers geloer of Harry (die Ou Tronk se vriendelike spook) nie dalk saam loop  nie.

 
Die vertelling van die teregstelling van die boereheld Salmon van As, het die groep tot by die Ou Tronk se agterste muur gebring waar besoekers hul vingers in die twee koeëlgate kon druk. Van As was een van drie Boere wat uit die amnestiebepalings van die Vrede van Vereeniging in 1902 uitgesluit was. Dit het tot gevolg gehad dat hy op 23 Junie 1902 deur die Britse militêre owerheid gefusilleer is.

 
Die motorfietsryers was dit eens dat elkeen weer by die Ou Tronk gaan kom kuier. Hulle het die MOTHs Suikerbosrand Shellhole bedank vir die middagete waarop hulle trakteer is en vir die interessante toer deur wat waarskynlik vandag Heidelberg se enigste museum is.

 
MOTHs Suikerbosrand Shellhole nooi alle organisasies, skole of groepe uit om ‘n toer deur die Ou Tronk te bespreek. Kom leer meer van hierdie gebou en die geskiedenis wat hier afgespeel het. Kom kyk na die unieke stortstelsel wat die tronkbewaarders  in die laat 1800s die gevangenes aan blootgestel het. In ‘n deel van die Ou Tronk kan jy nog die oorspronklike put-toilette sien! Ja, Harry is ook hier, maar hy is ‘n vriendelike siel …

 
Skakel Jackie van Rensburg by 083 304 1257 of Evert Pistorius by 082 462 3894 om ‘n besoek aan die Ou Tronk te reël.

Related Articles

Back to top button