Nationale kleure vir top karatekas

Die SAJKA se Nasionale Kampioenskappe het op 25 en 26 Mei in die binnenshuise saal van Ellispark plaasgevind.

Dit is bekend as die grootste nasionale karatekampioenskappe in die Suidelike halfrond waar 1 800 deelnemers van nege provinsies sake in 390 afdelings uitgespook het.

 
Op 25 Mei was die gekleurde gordels in aksie en op 26 Mei het die bruin en swart gordels (Elite afdelings) ’n plek in die nasionale span probeer verwerf vir die Afrika Kampioenskappe wat op 1 September in Suid-Afrika plaasvind.

 
Heidelberg- en Nigel Karateklub het 34 lede gehad wat Gauteng provinsie verteenwoordig het in 59 afdelings. Die karatekas het in die proses 10 goue, vyf silwer en 13 brons medaljes verower. 20 Lede het hul nasionale kleure verwerf en uit hulle is 11 in die nasionale span opgeneem wat Suid-Afrika tydens die Afrika Kampioenskappe sal verteenwoordig.

 
Estan Cronje (goud – kumite) Lizel Rautenbach (vier goud – kata en kumite, vier divisies)
Chriselda Viljoen (goud – kata) Hilda Griffiths (goud – spesiale afdeling senior) Leny Fremouw (goud – spesiale afdeling junior) is as nasionale kampioene in hul onderskeie afdelings aangewys.

 
Sensei Bernard Raubenheimer het gesê hy is beïndruk met die uitslae, in die lig gesien dat in 2017 slegs sewe lede nasionale kleure verwerf het en slegs twee lede die nasionale span gehaal het.

 
Hy het in ’n grap opgemerk dat, indien sy karatekas so bly presteer, die lede hul eie vliegtuig sal moet bespreek vir die Wêreld-kampioenskappe in 2020 in Japan.

 
Sensei Bernard (hoofskeidsregter), Senpai Phillipi Venter en Senpai Karen Raubenheimer het as nasionale skeidsregters oor die twee dae opgetree.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version