Bejaarde inwoner benodig fondse vir prostetiese hande

Volgens Kota het die verkleurde vingers in die weke daarna, een vir een soos droë stokke gebreek en afgeval. Sy sê die pyn was onbeskryflik en sy sukkel steeds om die trauma daarvan te verwerk.

‘n Bejaarde inwoner van Bergsig benodig dringend fondse vir prostetiese hande, nadat sy die slagoffer van ‘n onbekende siekte geword het wat al haar vingers geëis het.

 

“Verbeel jou ’n lewe sonder ‘n ledemaat. Ek is nie met ‘n gebrek gebore nie en my vingers was vir 76 jaar deel van my liggaam. Ek kon my hande elke dag gebruik, maar nou is my vingers net stompies.”

 

Dit was Kota Mulder (nou 77) se woorde tydens HERAUT se besoek op 30 Mei, nadat haar dogter ‘n dringende beroep om hulp gedoen het. Kort na die viering van haar 76ste verjaardag het Kota ‘n vreemde, pynlike sensasie in albei hande ervaar. Eers het sy ‘n blou-pers kleur aan die vingerpunte opgemerk, maar na ‘n week het haar vingers swart verkleur.

 

Omdat sy nie lid van ‘n mediese fonds is nie, het Kota mediese behandeling by die Helen Joseph Hospitaal in Johannesburg ontvang. Sy is later opgeneem en verskeie toetse (insluitend toetse vir diabetes) is uitgevoer ten einde ‘n diagnose te maak.

 

“Eers het die dokter vir my gesê dit is weens nierversaking, maar later het hulle verduidelik dit is ‘dry gangrene’ en dat my vingers weens ‘n gebrek aan bloedsirkulasie mettertyd gaan uitdroog en afval. Ek was erg geskok en glad nie voorbereid op wat daarna gevolg het nie.”

 

Volgens Kota het die verkleurde vingers in die weke daarna, een vir een soos droë stokke gebreek en afgeval. Sy sê die pyn was onbeskryflik en sy sukkel steeds om die trauma daarvan te verwerk. Tot nou is geen amptelike diagnose nog teenoor haar gemaak nie en Kota sê sy sukkel om te verstaan wat met haar gebeur het.

 

Hoewel die wonde waar die vingers afgeval het intussen mooi genees het, het Kota bykans geen gebruik meer van haar hande nie.  “As ek net weer my hande kan gebruik,” het sy gesê en demonstreer hoe moeilik dit vir haar is om alledaagse take uit te voer.

 

“Ons wil vir haar prostetiese hande laat maak sodat sy meer produktief kan raak en haar menswaardigheid herwin. Sy wil graag haar herfsjare met die volle gebruik van albei hande aanpak,” het Kota se dogter Marinda Pieterse gesê en verduidelik dat hulle tans met ‘n fondsinsamelingsprojek besig is.

 

Die familie het ‘n beroep op die plaaslike gemeenskap gedoen om hulle hierin te ondersteun. Alle fondse sal vir die maak van twee prostetiese hande aangewend word. Vir navrae, skakel Marinda by 082 552 7966.

 

DIE ONDERSTAANDE FOTO IS NIE GESKIK VIR SENSITIEWE LESERS NIE

 

 

 

 

 

 

 

Kota Mulder benodig dringend fondse vir prostetiese hande. Sy het die vingers van albei hande weens ‘n onbekende siekte op die ouderdom van 76 jaar verloor en sukkel met alledaagse take soos om haar tande te borsel of haar hare te kam.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version