NewsSport

Heidelberg Krieketklub hou Algemene Jaarvergadering

Die klub het in die laagste liga begin speel en nou ná 16 jaar tot in die Premier liga gevorder.

Heidelberg Krieketklub het sedert 2002 nadat hy weer as ‘n senior klub by die Gauteng Krieketraad geregistreer is, van krag tot krag gegaan. Die klub het in 1994 doodgeloop en eers as junior klub tot 2002 gefunksioneer. Die klub het in die laagste liga begin speel en nou ná 16 jaar tot in die Premier liga gevorder. Waar die klub begin het met een senior span, spog Heidelberg Krieketklub nou met vier seniorspanne waarvan twee aan Saterdag-ligas en twee aan Sondag-ligas deelneem. Die klub het in die afgelope 16 jaar  19 trofees gewen.

 

Die gronde by die Unievelde is ook verbeter met ‘n klubhuis, witskerms ,sitplek vir spelers en tans word nette opgerig vir afrigting by die veld. Die klub onderhou die gronde op eie koste . In 2017/18  seisoen het die klub oor 60 senior en junior spelers beskik en hoop hulle om die getal te vergroot. Die junior afdeling van die klub speel in die o/9-, o/11- en o/13-afdelings in ‘n somer- sowel as winterliga. Die klub se blad is as een van die top vyf blaaie in Gauteng deur besoekendes spanne en skeidsregters vir die 2017/18 seisoen aangewys.

 

Twee van die krieketklub se  eerstespanspelers het onder die top 10 kolwers in die Premier liga van 2017/18 geëindig. Kaptein Nico Raubenheimer het tweede geëindig met 854 lopies teen ‘n gemiddeld van 50.2 en Johan Wessels agtste  met 601 lopies teen ‘n gemiddeld van 67.3. Nico het top in die T20 liga geëindig met 296 lopies met ‘n gemiddeld van 98.7 . Nico is vir sy prestasies vereer en gekies om vir die Gauteng Premier klub 11-tal te speel wat in wedstryde teen die Gauteng Akademie te staan kom. Hy was ook as kaptein van die span aangewys. Johan speel tans in Engeland krieket. Die klub was in 61 wedstryde betrokke met sy vier spanne en het 37 hiervan gewen.

 

Heidelberg Krieketklub se bestuur nooi alle bestaande senior spelers asook voornemende spelers na die klub se Algemene Jaarvergadering op 1 Junie (Vrydag) om 18:00 tot 19:00 by die klubhuis. ‘n Nuwe bestuur sal tydens die vergadering verkies word.

 

Enige speler van 14 jaar en ouer  wat senior krieket wil speel, word ook genooi om die vergadering by te woon. Spelers van buurdorpe is welkom om by die klub aan te sluit sodat vasgestel kan word hoeveel spanne vir die nuwe seisoen ingeskryf  moet word.

 

Die junior spelers oefen op Vrydae om 16:00 by Hoër Volkskool se nette en sal in wedstryde deur die winter betrokke wees.

 

Vir verdere navrae rakende Heidelberg Krieketklub kan Bernard Raubenheimer by 083 489 8231  geskakel word.

 

Volg ons:

Facebook

Twitter

 

 

Related Articles

Back to top button