Helfte van SA plattelandse munisipaliteite kan nie dienste bekostig nie

Lesedi het te min geld om basiese dienslewering suksesvol deur te voer

Volgens die minister van finansies: Nhlanhla Nene, het byna die helfte van Suid-Afrika se plattelandse munisipaliteite (waarvan Lesedi Plaaslike Munisipaliteit een is) te min geld om basiese dienslewering suksesvol deur te voer.
Nene het in antwoord op ‘n skriftelike parlementêre vraag (van die DA-LP Kevin Mileham) bekend gemaak dat 112 oorwegend plattelandse munisipaliteite “onbefondsde begrotings” het – wat beteken hulle het nie genoeg geld in hul begrotings om die basiese dienste wat hul plig is te lewer nie.
Nene onderneem in die antwoord dat hy saam met die minister van samewerkende regering: dr Zweli Mkhize, sal werk om ‘n plan vir die beter bestuur van die munisipaliteite daar te stel en stappe te doen teen munisipaliteite met onbefondsde begrotings. Hy voer egter aan dat die besluit om ‘n munisipaliteit te ontbind of die finansiële bestuur daarvan oor te neem, by die provinsiale regering berus. Hierop het Mileham egter gesê hy meen die minister lees die Grondwet verkeerd en versaak sy plig.

 

“As die munisipaliteit nie dienste kan lewer nie, moet die provinsie dit doen. As die provinsie nie by magte is nie, plaas die wet ‘n verpligting op die nasionale minister om daadwerklik in te gryp. Daardie mag berus by die minister van finansies omdat die munisipalte regruk-eenheid binne die nasionale tesourie aangetref word,” het Mileham gesê.

Van die 112 munisipaliteite wat nie hul diensleweringsbegrotings kan financier nie, is die Sedibeng-distrik (Vereeniging) sowel as Heidelberg se Lesedi plaaslike munisipaliteit albei deel van die lys.
Daar is verskeie redes hoekom Lesedi Plaaslike Munisipaliteit op hierdie lys verskyn, volgens Gerry Holtzhausen: DA raadslid vir Wyk 9 (Lesedi: Heidelberg).

 

“Een van die hoofredes is die ANC se deurentydse planne en aksies om die mag te behou. Die beste manier wat die ANC dit landwyd kan doen, is deur middel van die afbakeningsbord, waar die landskap se grense aangepas word sodat hulle in beheer bly,” sê Holtzhausen.

“ ‘n Goeie voorbeeld is Jameson Park wat nooit deel van Heidelberg was nie,  maar nou wel in hierdie munisipaliteit ingesluit is. KwaZenzele (langs Springs) en Impumelelo (langs Devon) is nog voorbeelde. Laasgenoemde is 52km van Heidelberg af, maar Lesedi se munisipaliteit moet dienste daar lewer, wat geweldige druk op die fondse plaas,” het hy bygevoeg.
Volgens Holtzhausen maak die bedrag  inkomste wat uit die groot geografiese gebiede ingevorder word, dit onmoontlik om vir die hele munisipale gebied sinvolle en volhoubare dienste te verskaf.
Die laaste spyker in Lesedi Plaaslike Munisipaliteit se doodskis, is swak beplanning, geen onderhoud op munisipale voertuie, geen instandhoudingsplan vir paaie, straatligte, ensovoorts. Personeel is nie diens-ingestel nie en gee eeenvoudig nie om oor kwaliteit dienste nie.

Volg ons:

Facebook

Twitter

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version