Local newsNews

Dienslewering in Nigel kom onder skoot

Stukkende straatligte dra by tot toename in misdaad

Hoewel Nigel nie deur ernstige diensleweringsprobleme lamgelê word nie, is belastingbetalers van mening dat sommige kwessies met die verloop van jare oorgesien word.

 
Kwessies soos straatligte en verkeersligte wat maande lank (indien nie jare nie) buite werking is, maak inwoners warm onder die kraag. Sportklubvoorsitters kla oor die dorp se sportfasiliteite soos Nigel Tennisklub se beskadigde bane wat bykans geen aandag van die munisipaliteit ontvang nie en gevolglik tot algehele verval lei.

 
Straatligte wat nie werk nie, dra moontlik by tot die toename in misdaad. Polisiewoordvoerder Sers Nellie Dwaba het bevestig dat woongebiede soos Noycedale en Glenvarloch deur diewe (veral motorbanddiefstal) geteiken word.

 

Dié vlaag misdaad wat met hondevergiftiging gepaard gaan, kan moontlik toegeskryf word aan straatligte wat nie werk nie en hoewel plaaslike GPF-lede die areas gereeld patrolleer, is dit onmoontlik om verdagtes en hul beweging in die donker raak te sien.

 
Die haglike toestand van die Herbert Bickley waterkanaal (wat een van die dorp se bekendste landmerke is), het ook die afgelope vier jaar gereeld onder spervuur beland en ondanks verskeie pogings deur Nigel Stadsraad om die kanaal skoon te maak en behoorlik te onderhou, wil dit voorkom of onkruid die ronde gewen het.

 

Volgens DA raadslid Wollaston Labuschagne het die kanaal die einde van sy lewensduur bereik.

 

“Die verbrokkelde betonvloer van die kanaal maak dit bykans onmoontlik om enige verdere instandhoudings- of herstelwerk uit te voer en onkruid groei onbeheerbaar.

 

“Ek sal egter alles in my vermoë doen om te verseker dat die betrokke departement behoorlik vir herkonstruksie van die kanaal begroot. Aangesien dit na verwagting miljoene rande sal beloop, is ek van mening dat dit nie binne die volgende twee finansiële boekjare sal gebeur nie,” het Labuschagne gesê.

 

Lees ook: DA in Ekurhuleni calls on residents to register to vote for a better future

Wat die dorp se sportfasiliteite betref, het hy gereël dat afgevaardigdes van die Departement van Sport, Ontspanning en Kultuur die onderskeie parke en velde besoek ten einde ‘n volledige verslag saam te stel. Die verslag (met die oog op opknapping) sal met die volgende begrotingsvergadering voorgelê word.

 
Labuschagne het inwoners verseker dat die kwessie met betrekking tot straatligte wat nie werk nie, dringende aandag geniet. Hy het inwoners aangemoedig om slaggate, foutiewe straatligte en ander diensleweringsprobleme by die volgende nommers aan te meld:

 

Ekurhuleni inbelsentrum 0860 543 000

Of stuur ‘n sms na 30788

Of skakel die diensagentskap in Nigel by 011 999 9147.

 

Volg ons:

Facebook

Twitter

Related Articles

Back to top button