CrimeLocal newsNews

Talle inbrake by wonings aangemeld

Inwoners het die afgelope week deurgeloop met inbrekers wat op verskeie wonings in veral Rensburg en Heidelberg Sentraal toegeslaan het.

‘n Inwoner is ook tydens ‘n motorkaping in Strydomstraat van sy voertuig beroof. Nog twee voertuie is die afgelope week in Heidelberg gesteel.

 
Die inwoner het op 14 April omstreeks 20:15 voor ‘n huis in Strydomstraat stilgehou. Die volgende oomblik het twee gewapende mans in ‘n wit Volkswagen Polo by hom gestop en een van die mans het uitgespring. Die verdagte het die inwoner gestamp dat hy op die grond geval het. Hulle het die sleutel van die voertuig en sy selfoon geëis waarna hulle met sy voertuig weggejaag het.

 
‘n Toyota Tazz is op 18 April tussen 14:30 en 14:50 in die parkeerarea van die Victorian Sentrum gesteel terwyl die eienaar inkopies gedoen het. ‘n Volkswagen Polo Vivo is die volgende dag by ‘n gastehuis in Jacobsstraat gesteel. In nog ‘n voorval is ‘n voetganger haar handsak kwyt terwyl sy naby die Jacobsstraat/N3 oprit gestap het. ‘n Swart motorfiets het glo naby haar verbygejaag en haar handsak met haar beursie met kontant en elektroniese kaarte in gegryp.

 
Drie wonings in Heidelberg Sentraal (Van den Steen- en Rissikstraat) het gedurende die nag (21 en 22 April) onder inbrekers deurgeloop wat motorhekke gesteel het terwyl inwoners geslaap het.

 
Rensburg het veral onder inbrekers deurgeloop. In die eerste voorval het verdagtes omstreeks 05:15 op 18 April by ‘n huis in Vredestraat ingebreek terwyl die inwoners geslaap het. Hulle het wakker geskrik en was net betyds om ‘n verdagte met hul TV deur ‘n oop venster te sien spring. Die volgende nag het inwoners van Zuidstraat wakkergeskrik toe hul honde geblaf het. By nadere ondersoek het hulle gevind dat hul motorhuisdeur oopstaan. Gereedskap is gesteel.

 
‘n Huis in Romynstraat het op 20 April gedurende die dag onder inbrekers deurgeloop terwyl die eienaars uitstedig was. Volgens die eienaar het hy met sy terugkeer gevind dat sy DVD speler weg is. Klere in die slaapkamer is ook uit die kaste gegooi. Dit is nie bekend hoe die inbrekers toegang tot die huis verkry het nie.

 
Huise in Heidelberg Sentraal het ook onder inbrekers deurgeloop. ‘n Huiseienaar van Arnoldistraat het op 21 April omstreeks 02:30 wakkergeword toe sy honde begin blaf het. By nadere ondersoek het hy gesien hoe ‘n verdagte persoon uit die huis hardloop. Die kombuisdeur was oopforseer, maar niks is gesteel nie.

 
Nog ‘n huis in Gouritzstraat, Shalimar Ridge het op 20 April gedurende die dag onder inbrekers deurgeloop terwyl die eienaars uitstedig was. Met hul terugkeer het hulle gevind dat ‘n skuifdeur oopforseer is koper kabel asook krane ter waarde van R99 300 gesteel is.

 
Inbrekers het op 20 April by ‘n huis in Bendorlaan, Overkruin ingebreek en ‘n TV, skoene en skootrekenaars gesteel.

 
‘n Voetganger is op 21 April omstreeks 15:45 in AG Visserstraat van sy Samsung Galaxy Grand Prime selfoon ter waarde van R2 500 beroof. ‘n Man het by hom verbygehardloop en sy selfoon gegryp.
Die wiele van ‘n vragmotor is gedurende die vroeë oggendure van 20 April gesteel terwyl die bestuurder by die De Hoek Tolplaza gestop het.

 
Inwoners word gevra om by hul plaaslike GPF patrolleerders aan te sluit en Heidelberg Polisie in hul stryd teen misdaad by te staan. Vir meer besonderhede kan Sersant Vusumuzi Zondo (Sektor 1), Adjudant Offisier Wollie Wolmarans (Sektor 2) of A/O Frank Mnqosini (Sektor 3) by 016 341 0330/0345/0339 geskakel word. Vir meer besonderhede oor Heidelberg GPF, skakel Flip Minnaar by 082 443 1808 of David van As by 083 391 5448.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button