NewsSchools

Chiara (10) stel voorbeeld vir Heidelbergers

Inwoners kan help om 'n jong meisie se droom 'n realiteit te maak!

Die opgewondenheid loop hoog in die Schoemans se huis nadat Chiara  (10) as finalis in vanjaar se Miss SA Schools kompetisie aangewys is.

Dié  kompetisie se hoofdoelwit is om jong Suid-Afrikaanse skoolmeisies met die nodige kennis en vaardighede toe te rus om suksesvolle ambassadeurs vir hul skole en Miss SA Schools te wees.

Die organiseerders poog om die finaliste te inspireer om in hul onderskeie gemeenskappe betrokke te raak deur hul eie projekte saam te stel. Voorbeelde van projekte is welsynswerk, kostafels en partytjies vir minderbevoorregtes om ‘n paar te noem.

Chiara (graad 4-leerder van Laer Volkskool) het dadelik ingespring en besluit om met ‘n spesiale projek net voor die Paasnaweek se aanvang weg te spring.

Sy het eerste by ‘n kinderhuis in Jordaan Park gaan kuier waar sy die jongklomp met paaseiers verras het. Hierna het sy ook ‘n soet bederf met die mediese personeel van Life Suikerbosrand Hospitaal en Heidelberg Ambulansdienste gedeel.

Vir Chiara was dit ‘n gebaar uit haar hart om vir hierdie personeel te wys dat hul ongelooflike werk nie ongesiens verbygaan nie.

“Om ander te help is my passie en droom”

Daar wag nog talle hoogtepunte sowel as uitdagings vir Chiara tydens haar reis as finalis in hierdie kompetisie. Voor die gala-aand op 25 Mei  (by Gold Reef City) plaasvind, moet sy haar projek suksesvol afhandel.

Sy gaan ook geleentheid kry om op Lekker FM te gesels en meer van haar uitreikprojekte te vertel.

 

Chiara Schoeman het ‘n projek begin om smeergoed vir skoolbrood vir ‘n plaaslike kinderhuis in te samel. Dit is nou hier waar Heidelbergers haar met donasies van produkte kan ondersteun.

Na afloop van die gala-aand, sal die groot finaal op 26 Mei by die Sheraton Hotel te Pretoria plaasvind.

Om ander (veral minderbevoorregtes) te help, is Chiara se passie en droom. Juis as gevolg hiervan wil sy nou verder uitreik na die kinderhuis wat sy besoek het.

Hier het sy etlike groot behoeftes raakgesien en besluit om haar volgende projek weer  aan dié kinders te wy.

Chiara doen ‘n beroep op al Heidelberg se inwoners om haar by te staan om van die volgende produkte wat vir die maak van skoolbroodjies aangewend word,  in te samel: grondboontjiebotter, margarine/botter vir broodsmeer, konfyt, marmite en wat ookal ‘n skoolbroodjie lekker maak.

Kom ons help Chiara om haar projek ‘n sukses te maak!

Enige persoon wat ‘n bydrae wil maak, kan vir Lelani (Chiara se mamma) by 079-824-1825 skakel.

Donasies moet asb voor of op 4 Mei ingehandig word. Heidelbergers kan  Chiara help om haar droom te laat bewaarheid deur haar projek te ondersteun.  Kom ons wys hoe groot ons dorp se hart is.

Lees ook: Oud-Volkie stel boek oor Chris Barnard vry

Volg ons:

         

Facebook      Twitter

 

Related Articles

Back to top button