Local newsNews

Inwoners sal self moet inspring en paaie herstel, sê munisipaliteit

Heidelbergers staan nie terug om dorp se voorkoms te verbeter nie

Inwoners van Von Geusaulaan het besluit om op eie onkoste self in te spring en die pad voor hul huise op te knap en slaggate te herstel.
Amelia Deysel en Chris Nortje het die voortou geneem en bosse wat die straat  oorgroei, op 7 April uitgekap.

“Inwoners het telkemale klagtes oor die toestand van die straat by Lesedi Plaaslike Munisipaliteit aangemeld. Ons het egter besluit dat ons met die hulp van twee werkers, self gaan inspring en begin opruim,” het Deysel vertel.
Nortje sê hulle het ander inwoners van die straat genader wat kontantbydraes gemaak het.

“Ons hoop om met hierdie poging ander inwoners aan te moedig om dieselfde inisiatief in hul strate te neem,” het hy gesê.

Lees ook: Nuwe waterpype vir Jordaanpark aangelê

Mirna Mulder (DA raadslid) stem saam.

“Ons wil inwoners aanmoedig om net die stukkie sypaadjie en straat voor hul huise in stand te hou. Ons kan nie meer op die staat staatmaak om in al ons behoeftes te voorsien nie. Daar is net nie fondse daarvoor nie. Ja, ons verstaan dat jy belasting betaal en geregtig is op kwaliteit dienste. Ongelukkig is die realiteit dat daar nie genoeg fondse of mannekrag is nie,” het Mulder gesê.

Paul Mpele (munisipale bestuurder) het gesê dat die toestand van die dorp se paaie te wyte is aan die manier wat dit jare gelede gebou is.

“In die tyd van die dorp se ontstaan en groei was daar min inwoners en die verkeersdruk nie so intens soos nou nie. LPM het ‘n bestekopname gemaak om te bepaal wat dit gaan kos om die paaie oor te doen.

So ‘n projek gaan miljoene der miljoene rande kos en die munisipaliteit het nie die fondse hiervoor nie. Dit is waarom die gate stuk vir stuk herstel word, ons doen wat ons kan,” het Mpele afgesluit.

Lees ook: Nog ‘n waterpyp bars in Heidelberg middedorp

Volg ons ook op:

         

Facebook      Twitter

 

Related Articles

Back to top button