CrimeNews

Heidelberg SAPD soek na Kia voertuig ná tref-en-trap

Die slagoffer is sowat 50m ver gesleep.

Heidelberg SAPD is op soek na ‘n Kia voertuig wat moontlik Vrydagaand (9/10 Maart) in ‘n tref-en-trap voorval betrokke was. Dit kom nadat ‘n voetganger op die N3 naby die Standerton/Balfour afrit doodgery is.

 

“Verbygangers het die grusame ontdekking omstreeks 06:15 op Saterdagoggend gemaak. Dit wil voorkom of die slagoffer ongeveer 50 meter ver deur die voertuig gesleep is,” het Kaptein Thivhulawi Tshilate (woordvoerder) van Heidelberg SAPD gesê.

 

Die voetganger word beskryf as ‘n swart man van ongeveer 1.5m lank. Hy het ‘n swart langbroek met wit strepe, grys en blou T-hemp en roomkleurige All Star tekkies aangehad. Die polisie doen ‘n beroep op familielede van die oorledene om na vore te kom.

 

Kolonel Amanda Viljoen (bevelvoerder) het paneelkloppers gevra om op die uitkyk te wees vir ‘n Kia voertuig met verdagte duike aan die linkerkant wat moontlik met die voorval verbind kan word.

 

Enigiemand met inligting kan Heidelberg Polisie by 016 341 0343/0372/0361 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button