Local newsNews

Listeriose: Als wat jy moet weet

Plaaslike winkels in Heidelberg en Nigel tref voorsorg.

Die uitbraak van listeriose wat reeds die dood van sowat 180 mense veroorsaak het, het mense aan die gons. Veral met die bekendmaking van Aaron Motsoaledi (minister van gesondheid) dat die oorsprong na Enterprise se Polokwane fabriek en Rainbow Chicken se fasiliteite in die Vrystaat wys.

 

Pick n Pay Heidelberg

Landswyd het winkelgroepe dadelik begin om dié produkte van hul rakke te verwyder. Ook by Pick n Pay Heidelberg is die produkte summier verwyder en na die verskaffer teruggestuur. Lance Weber van Pick n Pay sê nie net is die produkte verwyder nie, maar alle rakke en oppervlaktes is onmiddelik ontsmet. Hy beraam die produkte se waarde op duisende rande.

 

Pick n Pay Heidelberg het ook kennisgewings aangebring wat sy kliënte inlig dat alle produkte wat met die uitbreking van listeriose verbind kan word, verwyder is. “Alle kliënte wat enige Enterprise produkte (Bokkie, Renown, Lifestyle en Mieliekip) of enige reg-om-te-eet produkte soos polonies en russians by Pick n Pay gekoop het, moet dit asseblief terugbring en sal ten volle daarvoor vergoed word,” lui die kennisgewing.

The Angelo Mall Superspar

By The Angelo Mall Superspar in Nigel is alle verwerkte vleisprodukte onder Enterprise en Rainbow se handelsname ook van die rakke verwyder. Volgens Bettie Kramer is die yskasrakke behoorlik ontsmet en klante word aangemoedig om enige verwerkte vleisprodukte onder die handelsname Bokkie, Renown, Lifestyle en Miliekip na die supermark terug te neem vir vergoeding.

 

 

Hoewel winkelgroepe regoor Suid-Afrika aangesê is om die produkte te verwyder, waarsku die department dat simptome nie altyd dadelik wys nie en dat nog gevalle van siek mense kan voorkom.

 

Hoë risiko

 

Mense wat in ‘n hoë risikogroep val is pasgebore babas, swanger vroue en hul ongebore babas, bejaardes (veral dié bo 65 jaar) en mense met ‘n swak imuunsisteem.

 

Simptome

 

Simptome van listeriose is griepsimptome, hoë koors, naarheid asook diaree. Pasiënte met ‘n hoë risiko staan die kans dat die virus na hul senuweestelsel kan versprei waar dit breinvliesontsteking (kopseer, verwarring, stywe nek, balans probleme en struiptrekkings) kan veroorsaak. Indien jy enige van dié simptome ervaar, moet jy dadelik mediese hulp soek.

 

Waarskuwing: Moet nie self van die produkte ontslae raak nie

 

Die departement doen ‘n beroep op mense om nie self die produkte weg te gooi nie. As gekontamineerde produkte met ander vuilgoed in aanraking kom, kan dit die lewens van die vullisverwyderaars in gevaar stel.

 

Alle produkte moét na die winkel waar dit gekoop is, teruggeneem word. Die winkels stuur dit terug na die verskaffer wat dit na ‘n fasiliteit sal neem wat in die vernietiging van gevaarlike afvalprodukte spesialiseer.

 

Related Articles

Back to top button