CrimeLocal newsNews

Metro beampte van Springs noodlottig gewond tydens gewapende roof

‘n 50-Jarige Metro Polisie beampte is dood toe hy en ‘n vroulike kollega niksvermoedend op ‘n gewapende roof by ‘n vulstasie in Selcourt (Springs) afgekom het.

Volgens polisiewoordvoerder Kapt Thivhulawi Tshilate, het die roof omstreeks 22:50 op 13 Februarie plaasgevind toe agt verdagtes (in twee voertuie) voorgegee het dat hulle petrol wou ingooi. Die verdagtes het glo ‘n petroljoggie wat besig was om geld by die kassiertoonbank in te betaal, genader en ‘n wapen op hom gerig.

Vier petroljoggies en ‘n klant met ‘n jong kind is volgens inligting na die kombuis-gedeelte van die geriefswinkel gedwing, waar hulle met gewere aangehou is terwyl die valkluis met ‘n selfvervaardigde bom oop forseer is.

Volgens Kapt Tshilate het die verdagtes ‘n onbekende bedrag kontant en sigarette uit die kluis gesteel.

Terwyl die rooftog aan die gang was, het twee Metro Polisie beamptes wat lugtyd wou koop, die vulstasie niksvermoedend met ‘n gemerkte voertuig binne gery, waarop die verdagtes op hul voertuig losgebrand het.  Die bestuurder is volgens inligting verskeie kere getref en is later op die toneel dood verklaar.

Sy vroulike kollega kon daarin slaag om ongedeerd skuiling te vind. Volgens Kapt Tshilate het die verdagtes met kontant, sigarette asook die Metro Polisie beampte se dienswapen weggekom.

“Verskeie skote is afgevuur. Tydens die ondersoek het die polisie ondermeer leë AK-47 en R5-geweerpatrone op die toneel gevind,” het Kapt Tshilate gesê.

Niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie en die polisie het ‘n beroep gedoen op enige persoon met inligting, om SAPD Crime Stop by 08600 10111 te skakel, of om ‘n SMS na 32211 te stuur.

Springs SAPD ondersoek ‘n saak van gewapende roof en moord.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto. More »

Related Articles

Back to top button