20-Jarige Heidelberg liefling deur kapers afgemaai

'Waar is my ma?' Was Abé Meyer se laaste woorde: Lees hier oor skietdood van medic se dogter.

‘Hulle het vir my gesê dit gaan sewe minute vir die helikopter neem om tot hier te kom. Sewe minute het vir my soos ‘n ewigheid gevoel en ek het geweet my kind het nie sewe minute nie. Ek het geweet … ek het geweet ….” Só het Elzona Meyer (Heidelberg se bekende medic) vertel nadat haar dogter Abégail in ‘n kaping geskiet en op pad hospitaal toe gesterf het.

Die 20-jarige Abé (soos sy bekendgestaan het) is op 9 Februarie omstreeks 19:30 voor haar ouerhuis in Smitstraat geskiet toe vier rowers Jaco Pretorius se Ford Fiesta ST wou kaap. Abé en Jaco het pas van die gimnasium teruggekeer. Sy het haar voertuig gaan bêre terwyl Jaco buite gewag het. Hulle wou iets gaan koop om te eet.

“Abé het my nog gebel en gevra of hulle iets vir my moet kry. Ek was op daardie stadium in Nigel en wou niks hê nie. Ek het net vining met haar gepraat en nie besef dat dit die laaste keer sou wees nie,” het ‘n gebroke Elzona vertel.

Abé was besig om in die voertuig te klim toe die kapers met ‘n silwer Chevrolet Sonic agter hulle stilgehou het. Een van die mans het op hulle afgestap gekom en begin skiet. Pretorius het vir Abé gegryp en oor sy bene getrek in ‘n poging om haar van die gevaar af weg te kry, maar sy is in haar sy getref.

Abé het aan Pretorius gesê dat sy geskiet is. Die kapers het hulle uit die voertuig geruk en in die pad gegooi. Jaco sê die misdadigers was bomenslik sterk, en het hulle soos poppe deur die lug laat trek. Hy het heeltyd sy oog op Abé probeer hou terwyl die rowers op hom geskreeu het om nie te beweeg nie. Hulle het weggery, maar etlike meters verder stilgehou, agteruit gery en die vuurwapen weer op Pretorius gerig. Hulle het hom beveel om nie op te staan voor hulle om die hoek is nie.

Toe hulle weg is, het hy na Abé gehardloop. Sy het nog aan hom gesê dat sy baie pyn het. “Moenie laat iets met my gebeur nie!” en “Waar is my ma?” was die laaste woorde wat sy ooit sou sê.

Elzona het intussen die oproep gekry dat ‘n vrou in Smitstraat geskiet is. Sy het besef dit is haar adres wat hulle gee en gedink dit moet verkeerd wees. “Ek kan nie onthou hoe ek van Nigel tot in Heidelberg gekom het toe hulle my bel om te sê dat dit Abé is nie,” het sy vertel.

Die paramediese personeel was reeds besig om Abé in Emer-G-Med se ambulans te laai toe Elzona daar aankom. “Die paramedikus in my het dadelik oorgeneem, maar ek kon aan Abé se grys kleur sien dat daar groot fout is. Toe ek sien dat haar milt getref is, het alles wat oor jare by my ingeprent is outomaties teruggekom. Ek kon tot vir hulle sê hoe om die voertuie te parkeer sodat die helikopter kon sien waar om te land,” het Elzona gesê.

Abé was haar lewe, sy het haar vervul. “Ek mis haar verskriklik. Ek hoor haar stem, haar lag, ek voel haar teenwoordigheid”.

 

“Maar ek vra nie hoekom moes dit met my kind gebeur nie. Dit is die lewe. Ons leef in Suid-Afrika. Ek sien elke dag soortgelyke hartseer tonele. Dit is verskriklik dat sy só gewelddadig moes sterf, want dis nie hoe sy gelewe het nie,” het Elzona vertel.

Abé wat in 2016 matriek aan Hoër Volkskool voltooi het, was deel van die Heidelberg Mediese Vrywilligers wat haar ma gestig het. “Sy was ‘n vredeliewende, sagte kind wat nie vir mense kon kwaad word nie. Ek het dikwels met haar geraas en gesê sy moes nie mense so maklik in haar hart toelaat nie. Sy was te sag vir hierdie aarde. Sy is nou in haar hemelse woning en ek vind berusting daarby,” het ‘n emosionele Elzona gesê.

Abé het ‘n week voor haar ma se verjaardag (op 17 Februarie) en ‘n paar dae voor haar boetie Carter se verjaardag (op 15 Februarie) gesterf.

 

 

‘n Gedenkdiens word Vrydag 16 Februarie om 11:00 vanuit die Klipkerk gehou en mense wat hul herinneringe oor Abé wil kom deel word gevra om vrolik (asof vir ‘n somer vakansie of bootreis) aan te trek. Moet asseblief nie formeel aantrek nie. “Abé sou nie wou hê dat ons oor haar moes treur nie. Ons sal haar lewe vier,” het Elzona afgesluit.

Abé laat haar ma Elzona, biologiese pa Jaco Greyling, aanneem-pa Bill Meyer en boetie Carter agter. Sy het ook nog twee halfsusters gehad.

Die gekaapte voertuig is dieselfde aand in Mbeki Boulevard, Tsakane gevind. Daar was geen spoor van die kapers nie.

Kolonel Amanda Viljoen (bevelvoerder: Heidelberg Polisiestasie) het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om met inligting oor die kapers na vore te kom. Alle inligting sal as vertroulik hanteer word. Skakel Luitenant Kolonel Fry (bevelvoerder: Heidelberg Speurtak) by 016 341 0400 of die misdaad kantoornommer by 076 561 0450.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version