Local newsNews

Somer is Slangtyd

Saamgestel deur Johan Marais. African Snakebite Institute www.africansnakebiteinstitute.com

Somer is slangtyd. Hulle is koudbloedig en hou van warm weer en is baie aktief na ‘n bietjie reën. Gevolglik word meer as 80% van slangbyte tussen Januarie en April aangeteken.

Gelukkig is daar redelik min gevaarlike slange op die Hoëveld en suid en oos van Johannesburg is dit hoofsaaklik die Rinkhals en Sypikslang. Nagadders kom ook voor en noord, oos en wes van Pretoria is daar ook die Boomslang, Pofadder en Wipneuskobra.

Die Rinkhals is baie algemeen en bewoon grasvelde, veral naby vleie. Die slang is bedags aktief, vreet graag paddas en knaagdiere en is gewoonlik gou om te vlug, gewoonlik na ‘n nabye gat waar die slang jare lank sal woon. Indien die slang egter vasgekeer word, word daar gou ‘n bakkop gemaak en die twee of drie wit dwarsstrepe op die bors is sigbaar. Die Rinkhals spoeg graag en kan tot drie meter ver spoeg. Anders byt die slang indien mens naby genoeg beweeg. Rinkhalsgif is beide neurotoksies en sitotoksies en sal swelling asook asemhalingsprobleme veroorsaak. Alhoewel die slang as dodelik beskou word, was daar in meer as 40 jaar nog geen sterftes aangeteken nie.

Rinkhals from Gauteng Highveld. © Johan Marais

Die Sypikslang is baie algemeen en is vroegaand aktief, veral na reën. Hulle beland dikwels in swembaddens of word deur katte die huis ingebring. Die klein slangetjie word dikwels vir ‘n onskadelike Molslang aangesien maar byt onmiddelik indien gevang word, selfs as die slang after die kop vasgehou word. Hulle gif is sitotoksies en veroorsaak baie pyn en weefselskade. Slagoffers verloor dikwels ‘n vinger of duim. Gelukkig nie dodelik nie.

 

Sypikslang.
Foto Johan Marais

Honde word baie gebyt omdat hulle slange aanval of doodmaak. Dis ongelukkig net ‘n kwessie van tyd.

Eerstehulp vir slangbyt

Indien iemand deur ‘n slang gebyt word, kry die person so gou moontlik by die naaste waakeenheid in ‘n hospitaal. Dit is baie belangrik aangesien die korrekte behandeling baie pyn en lyding kan voorkom. Vergeet van toernikette en ander eerstehulpmetodes – reguit hospitaal toe! Minder as 15% van slangbytslagoffers benodig teengif en die behandeling in hospitale is baie suksesvol.

Gif in die oë

Spoel die oë vir so 15 minute uit met kraanwater en kry die persoon by ‘n dokter. Die oë sal ondersoek word, en met plaaslike verdowing asook antibiotika-room behandel word. Die oorgrote meerderheid slagoffers wat gif in die oë kry, herstel binne twee of drie dae. So ook vir troeteldiere met gif in die oë – vat die dier reguit veearts toe.

Troeteldiere en slangbyt

Vergeet van Allergex tablette, melk, houtskool en al die ander boererate – dit help absoluut niks. Kry jou troeteldier dringend by ‘n veearts en in erstige gevalle van vergiftiging sal teengif nodig wees.

Gaan gerus na ons webblad vir gratis plakkate van slange in jou omgewing – www.africansnakebiteinstitute.com

Vir slange op die werf – hou ‘n veilige afstand van vyf meter en skakel ‘n slangvanger – daar is ‘n landswye lys van slangvangers op ons webblad www.africansnakebiteinstitute.com.

Info supplied by Johan Marais – Cell: +27 824942039

The leading training provider of snake awareness and venomous snake handling courses in Africa and the largest supplier of quality snake handling equipment on the continent.

Related Articles

Back to top button