Local newsMunicipalNews

Matriekafskeid in gedrang: Heidelberg as gevolg van waterkrisis lamgelê

Gebarste hoof watertoevoerpyp na bewering oorsaak vir watertekort.

Heidelbergers se geduld met Lesedi Plaaslike Munisipaliteit is op nadat talle huishoudings en besighede van die sentrale dorp asook industriële gebied (ook dele van Rensburg, Uitbreiding 23 en 26) reeds bykans vier dae sonder ‘n druppel water in hul krane moet klaarkom.

 

Diégene wat die afgelope paar dae met lae waterdruk moes klaarkom, se water het ook vanoggend opgedroog.

 

Hoër Volkskool het reeds hul koshuis ontruim as gevolg van die waterkrisis wat tans in veral Heidelberg Sentraal heers. Graad 8 tot 11 leerders het verlede week hul eksamens voltooi en dit is nog net die matrieks wat hul laaste rekord eksamenvraestel more moet skryf.

‘n Groot bekommernis is egter die matrieks se afskeid wat Vrydag in die koshuissaal gehou gaan word. Hoewel die munisipaliteit aan die skool die versekering gegee het dat ‘n watertenk tot hul beskikking gestel sal word, kan ‘n krisis ontstaan by die vele haarkappers in die dorp wat na die matrieks se hare moet omsien. ‘n Stort voor die spogfunksie blyk nou ook ‘n uitdaging te word.

 

 

Laer Volkskool het ook nie water in hul krane nie, maar is gelukkig om ‘n boorgat tot hul beskikking te hê.

 

Heidelberg Public School in Jordaanpark het gister reeds hul leerders huis toe gestuur nadat hulle toestemming van die departement gekry het.

 

Van die besighede in sentraal soos KFC en veral karwasondernemings moes as gevolg van die watertekort hul deure sluit. Inwoners was ook boos omdat die voertuiglisensie afdeling van die munisipaliteit vandag (weens die waterprobleem) gesluit is.

 

Groot ondernemings soos Eskort en BAT het hul eie opgaar watertenks. Van die ondernemings in die industriële gebied is egter van munisipale water afhanklik en moet nou self water in kanne aanry.

Suikerbosoord Dienssentrum vir Bejaardes se krane het ook teen vanoggend bykans opgedroog.

 

Intussen het Lesedi Plaaslike Munisipaliteit uiteindelik hul stilswye gebreek en laat weet dat ‘n gebarste hoof watertoevoerpyp die oorsaak van die waterprobleem is. Dit kan egter tot twee dae of langer neem om die probleem op te los.

 

Volgens Arthur Thokoane (woordvoerder) van LPM kan inwoners die inbelsentrum by 016 330 0400 skakel sodat die watertenk water by besighede of woonbuurte kan aflewer. Hy het die versekering gegee dat die munisipaliteit besig is om nog watertenkers van ander munisipaliteite in te kry om met die krisis te help.

Water (bring jou eie houers) kan ook by die brandweerstasie in Lovedaystraat, Rensburg afgehaal word.

 

 

Related Articles

Back to top button