RTT matrieks se eindeksamen dalk in gedrang ná rekenaardiefstal

R400 000 se skade toe inbrekers Hoër Volkskool se rekenaarsentrum teiken.

Al 43 rekenaars én die rekenaarbediener (server) in een van die rekenaarsentrums van Hoër Volkskool is Vrydagnag gesteel toe inbrekers daar ingebreek het. Nie net is Rekenaartoepassingstegnologie Graad 10-leerders se praktiese taak verlore nie, maar die sentrum sal dalk nie gereed wees vir die RTT matrieks se eksamen op 16 Oktober nie.

 

Dit blyk dat die verdagtes ‘n buitehek van die skool oopforseer het, waarna hulle die sentrum se sekuriteitshek en deur oopgebreek het. Volgens die skool se sekuriteitsmaatskappy Emis, is die alarm omstreeks 00:20 geaktiveer, waarna sekuriteitsbeamptes die perseel besoek het.

 

Marelize de Bruyn (bestuurder) van Emis sê die maatskappy het nie toegang tot die skoolgronde nie (die rekenaarsentrum is in ‘n binnevierkant geleë). Die verdagtes het die drade van die alarmstelsel geknip en volgens De Bruyn kan ‘n sein nie weer gestuur word as die radiosender uitgebreek en beskadig is nie.

 

Mnr Hennie Pieterse (skoolhoof) sê dit lyk of die boosdoeners tussen 02:00 en 04:00 teruggekeer het om die diefstal voort te sit. Hy sê dit is groot skade vir die skool, maar hy is veral bekommerd oor die matrieks. Die skool wag nou vir die versekeringmaatskappy om uit te betaal voor herstelwerk kan begin. Mnr Pieters reken dit kan ongeveer drie weke neem om die sentrum weer op die been te kry.

“Indien dit nie teen 16 Oktober bruikbaar is nie, sal die matrieks hul eksamen in twee sessies in ons ander rekenaarsentrum moet skryf,” het Mnr Pieterse gesê.

 

Mev Surina Janse van Rensburg (RTT onderwyser) sê haar hart bloei vir die Graad 10-leerders wat ses weke lank aan ‘n praktiese taak gewerk het. “Al dié inligting is nou verlore en die leerders sal van voor af moet begin. Boonop sal ons nou ons beurt moet afwag om die tweede sentrum te kan gebruik.”

 

De Bruyn sê sy het voorgestel dat die skool hul alarmstelsel na Videofied opgradeer. Sodra dit beweging optel, stuur dit onmiddelik ‘n videogreep van gebeure na die beheerkamer.

 

Die vorige nag het Laer Volkskool ook onder inbrekers deurgeloop. Volgens Kaptein Thivhulawi Tshilate (woordvoerder) van Heidelberg SAPD is dieselfde inbreker op beide skole se sekuriteitskameras afgeneem.

 

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version