Local newsNews

Geliefde Heidelberger gee sy hart vir Suid-Afrika op internasionale vlak

Willie na Spanje vir Wêreld Oorplantingspele

Willie Kotzee het op 24 Junie saam met sy spanmaats na Spanje vertrek waar hulle aan die Wêreld Oorplantingspele in Málaga deelneem.

Meer bekend vir sy vernuf as stoeier en rolbalspeler, is hy vir hierdie unieke spele wat vir mense wat orgaanoorplantings ondergaan het, in die diepkant ingegooi en sal hy in die swembad aan die vrystyl, vlinder- en rugslag uitdunne deelneem.

Die baan-items waarvoor hy tydens die nasionale kampioenskappe in Johannesburg op 6 Oktober gekwalifiseer het, is spiesgooi en skyfwerp en Willie verteenwoordig sy land in die 50- tot 59-jarige afdeling. “Ek is nou 56. Sjoe, dit klink oud, maar baie meisies reken ek lyk meer soos ‘n 43-jarige,” het Willie op die vooraand van sy vlug geskerts.

Die 21ste weergawe van dié spele het op 25 Junie afgeskop en hoewel Willie dit nooit hardop sou sê nie, sal min dinge hom so gelukkig maak as om met ‘n medalje of drie terug te keer. Sy doelwit vir die spele is dus:

“Net vir deelname, omdat dit my eerste jaar is – om deel te neem het jy reeds baie bereik. Ja natuurlik is die wen-faktor daar, maar deelname is vir my nommer een”

Willie Impi, soos baie Heidelbergers hom oor die jare leer ken het, het in 2012 ‘n hartoperasie ondergaan waartydens hy ‘n linker ventrikulêre bystand toestel gekry het.

Op 24 April 2014 was hy gelukkig genoeg om ‘n hartoorplanting te ondergaan en dit was juis in die hospitaal waar die oorplantingspele gogga hom gebyt het. “Ek het daar baie oor die spele begin oplees en ek was ook daar toe die ere sekretaris van ons span, Herman Steyn, sy oorplanting ontvang het,” het Willie verduidelik.

Wat sy voorbereiding vir die wêreldspele betref, meen Willie dat hy in elk geval nog altyd daarvan ‘n punt maak om ten minste eenkeer per dag te oefen.

“Ek moet bieg, ek druk myself nie meer oor die ekstra moeg punt nie. As ek nou moeg raak, stop ek eerder en dit het niks met my hart te maak nie. Ek het net nie meer ‘n punt om te bewys nie.”

“Ek kort nog hier 10 sekondes en daar ‘n meter, maar ons weet wanneer die adrenalien pomp, dan kry mens so bietjie meer reg.”

Die voorreg om op internasionale vlak deel te neem, is nie iets nuuts vir Willie nie en hy sal beslis die ervaring wat hy tydens vorige geleenthede opgedoen het in sy guns laat tel.

Willie was in 1991 die Afrika stoeikampioen en het Namibië by die Olimpiese Spele in Barcelona in 1992 verteenwoordig.

Daar het hy 19de plek in die amateurstoei afdeling verwerf. Hy het erken dat dit donkiejare gelede was en is baie opgewonde om saam met sy spanmaats die tog aan te durf.

“Dit gaan ‘n nuwe ervaring wees en ek gaan baie nuwe mense ontmoet, so ek is opgewonde ja, hoewel die gevoel vir kompetisie uiteraard nie iets nuuts vir my is nie.”

“Ek gaan bly deelneem en ek wil ook aan die veterane atletiek kampioenskappe deelneem tot ek die dag nie meer kan nie, maar oefen sal ek permanent bly oefen.”

Willie was voorheen ook  enkelkampioen van Heidelberg Rolbalklub en tydens sy diensplig ook baie by krieket betrokke.

Gimnastiek was ook een van sy groot liefdes, maar as mens hom deesdae soek is hy heel waarskynlik by sy kroeg “Ons Plekkie” besig om ‘n energiedrankie te geniet.

Related Articles

Back to top button