MunicipalNews

Tyd om Heidelberg na rommelstatus af te gradeer!

Met Lesedi Plaaslike Munisipaliteit wat nie hul dienslewering pligte nakom nie, is dit dalk tyd om Heidelberg 'af te gradeer'.

Met Lesedi Plaaslike Munisipaliteit se dienslewering wat agterweë bly, is dit dalk tyd om Heidelberg se status na rommel af te gradeer.

Nors en onhulpvaardige werkers

Dienslewering, hulpvaardigheid en vriendelike flinke diens deur munisipale amptenare het lank reeds by die agterdeur uitgegly. Klagtes van onbeskofte beamptes by Lesedi se munisipale kantore wat geensins probeer om klante van hulp te wees nie, is aan die orde van die dag.

Skouers word opgehaal en die inwoners aangesê om die rekeninge te betaal, so nie word hul elektrisiteit summier afgesny.

 

Slaggate

Slaggate word by die dag groter en in sommige strate is dit haas onmoontlik om dié gapende seeroë te vermy. Inwoners spot al dat hulle kan sien wie vreemdelinge in die dorp is. Dit is hulle wat reguit ry en dan in ‘n slaggat ‘verdwyn’. Gesoute inwoners van die dorp ry soos dronk mense deur die strate in ‘n poging om die gate te vermy. Hier en daar wend LPM ‘n halfhartige poging aan om ‘n slaggat met die hand en ‘n sakkie teer te stop. Net sodat dit weer binne ‘n dag of twee insink.

 

Riool

Riool stroom uit verskeie plekke in en om die dorp en die stank wat oor Heidelberg hang sal goed by die rommelstatus pas. HERAUT het al menigmaal oor strome riool in Smitstraat, by die Unievelde en langs die Blesbokspruit berig. Dit wil lyk of LPM hul skouers optrek en handdoek ingegooi het.

 

Riool het Vrydag soos ‘n waterval uit die wal wat Jordaanpark met die R23 skei, gestroom.

Dit is ook lankal nie meer ‘n geheim dat Heidelberg se middedorp op ‘n ‘landmyn’ staan wat wag om te ontplof nie. Die ondergrondse waterpype is verouderd en die hele netwerk moet vervang word. Die munisipaliteit het erken dat hulle ‘n opname oor die vervangingswaarde van die pype laat doen het en dat die raad net eenvoudig nie die miljoene rande vir die projek kan bybring nie. Nou word pype maar gelap en gestop soos dit een vir een oopbars.

LPM het na bewering die R45 miljoen se skuld aan Eskom oor die afgelope paar maande afbetaal en inwoners kan net asem ophou dat die nuwe finansiële jaar se inkomste vir dienslewering aangewend sal word. Intussen is daar sprake dat ‘n nuwe finansiële hoof by LPM aangestel sal word. Heidelbergers kan maar net hoop dat munisipale sake binnekort gaan verbeter.

 

 

Related Articles

Back to top button