Local newsNews

Gesin slaap op straat – benodig dringend hulp

HERAUT doen beroep op gemeenskap om hulp te verleen.

Antoinette Hofmayer (50), haar dogter Carina (20) en skoonseun Francois Robbertse (29) leef sedert Januarie op straat en slaap onder ‘n sementbankie by die Engen Motorhawe in Rensburg.

Antoinette is ‘n gekwalifiseerde assistent-verpleegster wat haar werk sowat vier jaar gelede weens gesondheidsredes verloor het. Sy het op 16 Januarie vanaf Pretoria na Heidelberg gekom vir ‘n werksonderhoud by Heidelberg Hospitaal. Sy het egter nie genoeg geld gehad om terug te gaan nie en woon sedertdien op straat.

Francois het verlede jaar sy werk as passer en draaier in Rustenburg verloor en hy en Carina het nou by hul ma aangesluit in die hoop om werk in Heidelberg te kry.

Antoinette sê sy is ‘n bobaas bakster en droom daarvan om haar eie spysenieringsbesigheid te begin.

Carina is bereid om enigiets te doen en het ondervinding in kassierwerk. Sy is ook goed met kinders. Die twee wil graag pannekoek vir ‘n inkomste bak, maar benodig ‘n gasstoof, panne en bestanddele.

Francois kan ook diesel werktuigkundige werk asook elektrisiënwerk verrig.

Die winter is egter op hande en die grootste bekommernis is ‘n woonplek. “Die eienaar van die motorhawe is baie goed vir ons en gee dikwels vir ons koffie of iets om te eet. Hy gee ook nie om dat ons hier slaap nie.

Daar is mense wat vir ons kos bring en Rensburg se GPF hou ‘n ogie oor ons. Ek staan bekend as die ‘Garage-vrou’,” vertel Antoinette.

Antoinette sit slaap op ‘n sementbankie en tafel, terwyl Carina en Francois op die vloer slaap. As dit baie koud word, kruip Carina onder die tafel in.

Nog iemand wat hulle oor die drie ontferm het, is Hannelie van Vuuren wat in die munisipale woonstelle in Rensburg woon. Hannelie het egter self twee kinders wat by haar woon en leef van ‘n ongeskiktheidspensioen. Sy help met wasgoed was en badgeriewe.

“Ek is nie bang nie. God het my na Heidelberg gestuur vir ‘n doel en ek glo Hy sal die regte mense oor ons pad stuur,” het Antoinette gesê.

Enigiemand wat die drie met klere (veral wintersklere), komberse, winterskoene en kos kan help, kan Antoinette by 061 729 4854 skakel.

Sy laai haar selfoon by die motorhawe se winkel. Hannelie kan by 079 189 8038 geskakel word. Die grootste behoefte is egter ‘n vaste werk en blyplek.

 

 

Related Articles

Back to top button