Deon van Nigel bid daagliks vir ‘n skenker

Jongman kort dringend 'n nier om weer te kan lewe

Hy is nog lank nie dood nie, maar hy lewe ook nie meer nie.

Elke tweede dag durf Deon Botha die pad Heidelberg toe aan. Hy moet dialise behandeling ontvang of die dood in die gesig staar. Elke sessie neem sowat vier ure en hoewel hy daarna goed voel, is dit altyd maar net ‘n kwessie van tyd voor hy weer siek is.

Deon is 30 jaar oud en kort dringend ‘n goedhartige persoon om vir hom ‘n nier te skenk. Hy was ‘n 18 maande oue baba toe hy met tipe een diabetes gediagnoseer is en het toe reeds sy linkernier verloor.

Luister hieronder na Deon:

 

Deon Botha by HeidelbergNigelHeraut

As kind moes hy leer dat hy nie soos sy maats alles wat in die snoepiewinkel beskikbaar is, kon eet nie. Hy moes daagliks sy medikasie drink en ook die insulien inspuitings (soms vyf keer per dag) verduur.

Hy vertel dat dit nie maklik was om in ‘n hospitaal groot te word nie, maar hy kon sy skool loopbaan by Hoërskool John Vorster voltooi en het daarna sy vakmanskap as elektrisiën met lof geslaag. Hy het die lewe met ‘n aanhouer wen houding aangepak maar in 2010 het die prentjie begin verander.

Deon het daardie jaar sy linkeroog verloor en is ook toe met nierversaking gediagnoseer. Hy het egter steeds bly werk, al was dit ook hoe moeilik. Hy het as elektrisiën by Alstom (voormalig Union Carriage) op verskeie projekte gewerk en het onder meer gehelp met die bedrading van die Gautrein waens wat vandag nog deur miljoene pendelaars in die stede gebruik word.

Inspuitings en hospitale was nog altyd deel van sy lewe.
Dit was eers op 25 Oktober 2016 wat sy lewe weer drasties verander het.

“Ek het verskriklik siek geword en hulle het dadelik besluit dat ek met dialise moet begin.”

[Dialise word toegepas wanneer jy jou nierfunksie verloor.]

Kort nadat hy van ‘n masjien afhanklik geraak het, het Deon sy dae so probeer beplan dat hy soggens die proses om weer skoon bloed in sy liggaam te kry sou voltooi en daarna by die werk inval.

 

Die neweeffekte van dialise is egter dat hy baie braak en dikwels moes die werk hom net eenvoudig huis toe stuur.

Op 9 Januaurie toe hy terugkeer na die Desembervakansie, het sy werkgewers aan hom verduidelik dat dit sy laaste dag sou wees. Hy is medies ongeskik vir werk verklaar en Deon sit sedertdien by die huis, verveeld en gefrustreer.

“Tans lewe ek maar vir dialise, jy kan sê my beste vriend op die stadium is ‘n masjien.”

“Partykeer swel ek in my gesig en voete, partykeer nie. Dit wissel baie. Die ding wat my die meeste pla, is dit maak my ook soms siek, dan braak ek verskriklik.”

Deon se ma Dorothy wat self ook met verskeie gesondheidskwale sukkel (sy wag tans vir ‘n kornea skenker nadat sy ‘n ligte beroerte gehad het en het reeds beide haar knieë en heupe laat vervang) verduidelik om haar kind so in pyn te sien haar hart breek.

“Dit is nie maklik nie, jy wil nie vir jou kind wys dat jy huil nie,” vertel Dorothy.

“Jy gaan huil maar op jou eie. Jou hande is afgekap. Met hierdie opgooiery gaan lê ek dikwels my hande op hom en ek bid vir hom. Hy is my hart se punt en dit is moeilik om dit elke keer te aanskou.”

Was dit nie vir hul steunpilaar Deon senior nie, sou dit nog moeiliker gewees het vir die gesin om die bokse vol pille en inspuitings en ritte hospitaal toe aan te durf.

“Ek sê altyd dankie vir die Here dat hy my staande hou,” verduidelik Deon senior wat op 70-jarige ouderdom alle huis- en tuinwerk met ‘n glimlag voltooi.

“Die Here weet hoe dit hier gaan en iemand moet die dinge doen, want hulle kan net soveel doen en dit is maar hoe dit is.”

‘n Nierskenking sal beslis Deon junior se lewenskwaliteit verbeter, hoewel hy ook op ‘n lys vir ‘n pankreasoorplanting is.

“Ek kan gladnie meer gym nie,” verduidelik Deon.

“Ek het nie gegym om goed te lyk nie, dit was vir my gesondheid en tot ‘n mate het dit gehelp.

Die pypies in sy bors en arm maak dit onmoontlik vir hom om aan enige fisiese aktiwiteite deel te neem.

Deon kort ‘n skenker wat in die O-bloedgroep val en indien enigiemand bereid is om hom weer die geleentheid te bied om normaal te kan werk en lewe, kan hulle vir Deon by 082 879 8167 skakel.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version