CrimeNews

Drie kopskote – en hy leef!

Johan Meyer en sy vrou Jeanette van Nigel oorleef grusame plaasaanval

Die feit dat Johan Meyer vandag leef, is ’n wonderwerk. Hy en sy vrou Jeanette is op 26 Februarie op hul plaas Rietpoort deur drie rowers oorval en Johan het drie skietwonde aan sy kop opgedoen.

Wonderbaarlik het nie een van die koeëls sy kop binnegedring nie en daar is vandag slegs skraapmerke soos dit hom skrams getref het.

Johan (58) is kort na die aanval ona die Glynwood Hospitaal in Benoni gehaas en sy wonde is gister skoongemaak nadat die mediese personeel gevind het dat een skoot aansienlik meer skade as die res aangerig het.

Die grusame aanval het omstreeks 06:30 die oggend plaasgevind toe Jeanette (54) hul babahondjies uitgevat het om ‘n draai te loop.

Sy het die sekuriteitshek op ‘n klein skrefie oopgelos en toe sy  weer sien het ‘n man haar teen een van die huis se buitemure vasgedruk. In die struweling het hy haar gestamp en sy het in ‘n buitebad beland.

“Hy het heeltyd op my gekree dat hy my nie sal doodmaak as ek saamwerk nie,” – Jeanette Meyer

Met die val het sy haar nek en arms beseer en die rower, glo ‘n jong man, het haar daarna gedwing om weer die huis binne te gaan waar hy haar beveel het om op haar knieë te staan. Sy moes daarna op die sitkamermat stelling inneem.

“Die man het my toe na ons slaapkamer geneem en toe ek daar instap, was my man vol bloed op die grond vasgebind. Daar was nog twee aanvallers in die kamer.”

Jeanette se voete is toe vasgebind en haar hande agter haar rug vasgemaak terwyl die rowers hulle kaste deursoek het.

Hulle het haar gevra waar die kluis se sleutels is, maar sy het gesukkel om te praat, want haar mond was droog van die skok.

“Hulle het alles uitgepak en gevra waar die geld is. Ek het probeer verduidelik dat ons met vakansie was en dat daar nie baie geld in die huis was nie.”

Uiteindelik het die rowers R500 uit haar beursie geneem. Die kluis is ook later oopgesluit en hulle het al die geld, twee vuurwapens, drie selfone asook haar kostuumjuwele gebuit.

“Een van die rowers het by ons gebly en die ander twee het uitgegaan om die bakkie te probeer aanskakel.

Die twee het egter met die immobiliseerder gesukkel en Jeanette moes toe haar man verlaat. Haar voete is weer losgemaak sodat sy die skurke kon gaan help.

Die namerie duur voort

Sy was verlig toe die bakkie se enjin uiteindelik begin dreun, maar dit was nog nie naastenby die einde van die traumatiese ervaring nie.

Hulle het haar weer terug na die slaapkamer geneem waar haar man steeds leweloos op die vloer in sy eie bloed gelê het.

Haar voete is weer vasgebind en sy kon hoor hoe die mans al die gordyne in die huis toetrek. Die drie mans het toe elke sleutel wat hulle in die hande kon kry, gegryp en die huis gesluit waarna hulle met die Mazda Rustler weggejaag het.

Die bakkie is later die dag voor Binnelandse Sake se kantoor in Nigel gevind.

Gelukkig het hulle nie ‘n sleutel, wat hulle gelos het vir ‘n vriendin wat hulle honde opgepas het toe hulle met vakansie was, gesien nie.

Jeanette het dit reggekry om haar hande los te kry.  Sy het Johan ook losgemaak en was verlig toe hy met haar praat.

“Johan het vir my gesê dat hy in die kop geskiet is. Hy is ook ten minste vier keer met ‘n crowbar (koevoet) deur die gesig geslaan – daar was oral bloed.”

Toe sy gevoel het dat dit veilig is om uit die kamer te gaan, het Jeanette, toe nog in haar slaapklere, na die buurplaas begin hardloop om hulp te kry.

“Op die grondpad het ek ‘n bakkie hoor aankom. Ek was bang dat dit weer die rowers was en het agter ‘n boom weggekruip. Gelukkig was dit die buurman.”

“Hy het my na ‘n ander plaas, so twee plase weg van ons af, gevat en ons is later weer terug om my man te gaan help.”

Binne minute nadat die saak aan die owerhede rapporteer is, was daar sowat 50 SAPD lede op die toneel.

Dit is later bevestig dat die aanvallers Johan met ‘n 9mm pistool geskiet het. Jeanette verduidelik dat Johan slegs een skoot gehoor het. Sy het nie ‘n enkele skoot gehoor nie en die egpaar vermoed dat die aanvallers van ‘n knaldemper gebruik gemaak het.

Wat hulle ook uit die veld geslaan het, is die feit dat al die koffietafels in die huis mooi netjies op die banke gepak was.

Daar word vermoed dat die rowers toegang tot die huis deur ‘n skuifdeur, wat reeds jare nie gebruik word nie, verkry het. Die deur is glo met skroewe vasgemaak en om dit oop te breek moes hulle ure geneem het.

“Hulle moes tussen 03:00 en 04:00 by die huis ingekom het en het toe seker gesit en wag vir een van ons om op te staan sodat hulle die ander een kon panelbeat.”

Die Meyers was al voorheen by hul plaashuis aangeval, maar die voorval van  Februarie 2014 was nie naastenby so traumaties nie soos dié naweek nie.

“Hierdie keer het hulle ons gevange gehou. Die twee ouer mans was baie aggressief. Hoewel ek hulle reeds vergewe het, sal ek nou in vrees  lewe.

Jeanette het verduidelik dat haar skoonsus wat sowat drie jaar gelede deur dieselfde ervaring was, steeds sukkel om die trauma te verwerk.

“As ek my oë toemaak, sien ek hoe een van hulle op my afgehardloop kom. Hierdie plaasaanvalle word net erger by die dag. Ek is bang.”

Johan is intussen na ‘n oogspesialis gestuur. Die polisie ondersoek tans die voorval.

 

 

 

Related Articles

Back to top button