Local newsNewsBreaking News

Gevreesde kommandowurm in Heidelberg gevind

Vrese oor SA voedselsekuriteit wat in gedrang gebring word.

Boere van die Heidelberg omgewing se grootste nagmerrie het waar geword toe die gevreesde herfs kommandowurm gister in ‘n boer van Goeiehoek se mielielande ontdek is.

Faan Botha (voorsitter: Bloekomspruit Boerevereniging) het nog gister aan HERAUT gesê dat plaaslike boere hoop dat die wurm nie tot hier sal infiltreer nie. Laat gistermiddag het Pierrie Ackerman van die plaas Goedverwachten tussen Heidelberg en Vereeniging laat weet dat die plaag in sy mielies ingetrek het.

Tot dusver is die wurms net op die een plaas opgemerk, maar dat dit reeds na plase in die omgewing versprei het, kan nie uitgesluit word nie.

Die wurm (wat van Amerika afkomstig is en laat verlede jaar vir die eerste maal in Limpopo en Noordwes opgemerk is) rig groot skade aan gewasse soos mielies, sorghum, sojabone, grondbone en aartappels aan.

“Ons is veral bekommerd omrede daar nog geen insekdoder teen die Suid-Afrikaanse plaag gevind is nie,” het Faan gesê.

Die Departement van Landbou het gewaarsku dat die wurms ‘n groot gevaar inhou wat Suid-Afrika se voedselsekerheid in gedrang kan bring as dit nie onmiddellik onder beheer gebring word nie. Die departement het reeds ‘n interne span in samewerking met verskeie rolspelers saamgestel om boere in die stryd by te staan.

Die lewensiklus van eier tot volwasse mot stadium is 24 tot 40 dae afhangende van weertoestande en beskikbare voedsel. Die motte vlieg goed en heersende windstrome speel ‘n rol om vinnig oor groot afstande te versprei.

Die plaag raak moeilik om te beheer soos mielieplante groter word omdat die ruspes beter binne in the blaarkelk voed en buite die bereik van plaagdoders is. Boere moet veral let op nuwe ruspes in die kelk van die mielieblare.

Boere moet hul chemiese agente vir beheeropsies kontak. Die Departement van Landbou, Vissery en Bosbou sal daagliks hul webblad met nuwe inligting rakende registrasies van chemiese middels teen die herfs kommandowurm opdateer. Die blad kan by https://www.daff.gov.za/ besoek word.

Die Departement van Landbou doen ‘n beroep op boere om enige voorkoms van die plaag by Jan Hendrik Venter by 012 319 6384 of 072 348 8431 aan te meld.

Gerhards Verdoorn van CropLifeSA kan by 082 446 8946 vir beheermaatreëls geskakel word.

Plaaslike boere gaan vanaand om 17:00 ‘n noodvergadering met kenners by Goeiehoek (sillos) hou om die pad vorentoe te bespreek. Vir meer inligting oor die kwessie kan Faan by 079 820 8611 geskakel word.

 

Related Articles

Back to top button