Onderwys departement se plan met Wiskunde faal leerders

SOS spreek kommer uit oor die stand van Wiskunde, beskryf die staat se huidige plan as ’n “doodloopstraat”.

Alhoewel die matriekklas van 2016 gelukgewens kan word met hul uitslae is daar steeds rede tot diepe bekommernis oor die land se Wiskunde uitslae, aldus Hugo Vermeulen, Hoof van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) van Solidariteit Helpende Hand.

 
Slegs 51,1% van al die 2016 matrieks wat Wiskunde (nie Wiskunde Geletterdheid nie) geskryf het, het deurgekom.  ‘n Allemintige  49, % het dus minder as 30 % in Wiskunde behaal. Van die wat geslaag het, het slegs 33,5% bo 40% in Wiskunde behaal en dit nadat die punte heelwat opwaarts aangepas is deur die Departement).  Sonder twyfel sit die sterker leerlinge in die Wiskunde klas en hierdie skokkend lae persentasie gee ’n sterk aanduiding van hoe vrot ons Wiskunde in werklikheid is.

 
“Dit onderstreep wat die Timms uitslae van 2015 ook bevestig het (RSA 35ste uit 36 lande in gr. 9 Wiskunde), dat die onderwys van Wiskunde krities swak is en daar meer drastiese stappe geneem moet word om dit aan te spreek, tans loop die Departement se strategie met Wiskunde in ’n doodloopstraat af”, het Vermeulen gesê
Van die 1 303 016 leerders wat in 2004 graad 1 begin het kon net 610 178 (46,8%) verlede jaar matriek skryf, slegs 135 958 (10,4%) Wiskunde in Graad 12 slaag  en slegs 6,8% van hulle het bo 40% in Wiskunde behaal.

 
Volgens Vermeulen moet die departement van onderwys net gaan kers opsteek by skole waar daar suksesvolle onderwys en bewese prestasie in Wiskunde is.  Hul hoef nie veel verder as Afrikaanse skole te soek nie.  Navorsing onder die 721 Afrikaanse skole (alle skole wat Afrikaans Huistaal as vak aanbied) se 2016 matriekuitslae dui aan dat hierdie skole puik standaarde handhaaf.  Alhoewel hul net 10,6% van alle openbare skole verteenwoordig het hul 32% van alle onderskeidings in Wiskunde opgelewer.  Hierdie puik uitslae kan toegeskryf word aan hoe kwaliteit opleiding vanaf voorskool, deur die grondslagfase, intermediêre fase tot senior fase deur goed opgeleide passievolle onderwysers wat hul leerlinge se volle potensiaal laat realiseer.  Die geheim is die kwaliteit van die onderwysers.    “Die Onderwysdepartement sal wys optree om hierdie kundigheid te gebruik om onderwysers maar ook studente onderwysers landwyd beter op te lei”, het Vermeulen bygevoeg
Volgens Vermeulen gaan die Skoleondersteuningsentrum (SOS) vanjaar weer ongeveer 3 000 Afrikaanse onderwysers oplei tydens hul middagseminare en kongresse.

Exit mobile version