CrimeLocal newsNews

Sonskynkind sterf op Nuwejaarsdag

"Ons het gedink dit gaan ‘n beter jaar wees, ek en my sussie sou saam hoërskool toe gegaan het. Nou is sy ook dood."

Elke jaar bring sy eie teëspoed, maar die Uys gesin van Visagiepark het nie in hul wildste drome gedink dat 2017 ook met hartverskeurende gebeure sou begin nie.

Op nuwejaarsdag moes Frans Uys (15) sien hoe sy 13 jarige sussie, Elisna, haar laaste asem uitblaas nadat sy by ‘n masjien wat kinders lok om teddiebeertjies te vang doodgeskok is.

Die tragedie het tussen 15:30 en 16:00 by die Hall Gate Store buite Nigel, tussen die Hallgate plotte plaasgevind toe Frans en Elisna saam met hul maats Quintin en Nicole Jacobs inkopies gaan doen het.

Gesluit na tragiese gebeure
Gesluit na ‘n tragedie

“Ons het gedink dit gaan ‘n beter jaar wees, ek en my sussie sou saam hoërskool toe gegaan het. Nou is sy ook dood,” sê ‘n verslae Frans.

Die Uys gesin het in Februarie 2016 hul moeder Susan aan die dood afgestaan. Sy het in Oktober 2015 siek geword en is vroeg die volgende jaar in die hospitaal opgeneem.

Dit het Frans en Elisna se verantwoordelikheid geword om na hul pa Klaas om te sien aangesien hy weens sy serebrale gestremdheid net eenvoudig nie by alles kan uitkom nie.

Frans het egter sy hoërskool loopbaan by die Vereeniging Gimnasium begin, maar is saam met sy sussie vanjaar by Hoërskool John Vorster ingeskryf sodat hy nader aan die gesin kon wees.

“Ek en sy (Elisna) het naweke en vakansies as ‘n span gewerk aan die huis,” het Frans verduidelik. “Hulle moes my huishouding regkry,” het ‘n bedroefde Klaas bygevoeg.

Hulle was dit eens dat Elisna, ‘n uitblinker op laerskool Tini Vorster, baie opgewonde was om hoërskool toe te gaan en die feit dat sy weer saam met haar boetie sou kon klas draf was die kersie op die koek.

Die Hall Gate Store se deure het intussen toegemaak en ‘n polisiebeampte het bevestig dat die winkeleienaar dit uit sy eie gedoen het.

Eskom het intussen die elektrisiteit van die hele winkelkompleks, wat deur Hennie Jacobs besit word, afgeskakel.

Daar word verder beweer dat die elektriese koppelings nie aan die voorgeskrewe vereistes voldoen nie. Frans en Quintin het vertel dat hulle nie ‘n aarddraad aan die masjien wat Elisna doodgeskok het gesien het nie.

Die masjien het langs ‘n yskas gestaan en Elisna se voete was in ‘n plassie water toe sy daaraan geraak het.

“Ons het ‘n paar goedjies vir my oupa gaan koop. Ons was besig om te betaal en die twee meisies het gestaan en kyk na die masjien toe skree Nicole dat daar iets fout is,” het Quintin verduidelik.

Quintin Jacobs en Frans Uys
Quintin Jacobs en Frans Uys

Die seuns was binne sekondes by haar.

“Toe ons haar probeer vang, toe sak sy inmekaar. Sy het vasgesit tussen die yskas en die muur, toe sleep ons haar daaruit, uit die water uit,” vertel Frans.

Hulle het dadelik met CPR begin, en binne minute was verskeie lede van die gemeenskap in die winkel.

“Sy het so vier, vyf keer asem gehaal,” onthou Frans.

Sy is daarna na die plaaslike brandweerstasie geneem, maar dit was toe reeds te laat.

Klaas en Frans onthou ook hoe lief Elisna vir haar medemens was. Sy het aan talle sportsoorte deelgeneem en op akademiese vlak goed presteer.

“Sy het vir niks terug gestaan nie, en het selfs na my vrou se dood aangegaan soos ons haar leer ken het,” het Klaas vertel.

Frans Uys
Frans Uys.

Die Uys gesin het hul dank teenoor die mense wat haar gehelp het betuig.

Elisna Uys word op 9 Januarie om 12:00 vanuit die Hervormde Kerk in Nigel begrawe.

Related Articles

Back to top button