CrimeNews

24-Jarige Heidelberger steeds kritiek ná tref-en-trap ongeluk

Polisie op soek na Toyota Fortuner.

Jeff Ek wat op 12 November deur ‘n voertuig in HF Verwoerdstraat omgery is, het gister ‘n terugslag beleef en sy ouers vrees vir sy lewe. Die 24-jarige jongman word steeds onder sterk verdowing gehou om sy liggaam kans te gee om te herstel.

3

 

Jeff en ‘n vriend het omstreeks 21:15 in die straat gestap toe die ongeluk gebeur het. Volgens sy ouers, Craig en Marinda, het Jeff die pad oorgesteek toe ‘n Toyota Fortuner met drie insittendes bo oor hom gery het. Die voertuig het effens spoed verminder, maar toe weggejaag.

Lede van Heidelberg Volunteer Medics en Emer-G-Med was vinnig op die toneel en hulle moes spook om Jeff se hart weer te laat klop nadat hy geen pols getoon het nie. Nog medici van Life Suikerbosrand Hospitaal het die jongman te hulp gesnel.

 

2

Jeff se ribbes en pelvis was gebreek, sy lewer geskeur en sy longe en hart was gekneus. Sy toestand was so kritiek dat hy per helikopter na ‘n hospitaal in Alberton vervoer is.

Gister is sy ouers inderhaas ontbied nadat hy ‘n terugslag beleef het. Hy het inflamasie op sy longe opgedoen en sy bloeddruk bly gevaarlik hoog.

Die polisie vra die publiek om hulle met inligting oor die voertuig en bestuurder te help. Ooggetuies het gesien dat daar drie mans binne in die Fortuner was en die voertuig het drie fietse op ‘n drarak agter aan die voertuig gehad.

Enigiemand kan inligting vertroulik aan Adjudant Offisier Wollie Wolmarans of Sersant Vusumuzi Zondo by 082 822 8367 gee of skakel Jeff se pa, Craig by 082 551 6608.

Related Articles

Back to top button