Local newsNews

Moenie pretloop en bergfietsresies Saterdag misloop nie

Baie pryse en hope pret beloof vir LCS Mountain Bike Challenge.

Heidelbergers kan dié naweek uitsien na die LCS Mountain Challenge bergfietsresies wat groot pret vir die minder- tot die mees ervare fietsryers beloof.

Die resies skop om 08:00 op 3 September in die gronde van die Suid-Afrikaanse Leërgimnasium af en maak voorsiening vir atlete sowel as fietsryers.

Volgens Wikus Boshoff van Heidelberg Fietsryklub is hierdie byeenkoms net die ding om sportslui ná die winter aan die oefen te kry. Verskeie wedlope en roetes word aangebied om voorsiening vir een en almal te maak. Daar sal ‘n 4km pretroete vir stappers en ‘n 10km roete vir fikser deelnemers aangebied word.

Bergfietsentoesiaste kan uitsien na ‘n 10km (onervare), 30km (meer ervare) en 60km (professionele) resies. Die 60km sal ‘n sirkelroete deur die gronde van die weermag sowel as Jameson Park insluit.

Wikus sê die byeenkoms gaan (met ‘n groot maatskappy soos LCS aanboord) baie professioneel gedoen word met hoogstaande tydhou apparaat en groot pryse wat gewen kan word.

Riaan Barnard (besturende direkteur) van LCS sê die maatskappy wou by die uitdaag betrokke raak om sodoende ‘n groter geleentheid aan plaaslike ryers te bied om hul staal te wys. “LCS is daarop gefokus om ‘n positiewe verskil in ons plaaslike gemeenskap te maak en deur die LCS Mountain Challenge skep ons vir families en individue die geleentheid om die pratgige natuurskoon van Heidelberg te benut. Ons hoop om hiermee in ons plaaslike gemeenskap en natuurlik Hoër Volkskool terug te ploeg.”

Riaan sê daar is ‘n paar groot name wat aan die 60km resies gaan deelneem. Pierre Smith (Jeep span en wenner van twee provinsiale bergfiets resies – Silverstar en Transbaviaans), Henry Uys (wenner van verskeie resies soos die Stillwater en Magalies Monster asook Nigel se Nic Bottari Route 42), Cobus van den Berg (Nissan Trailseeker en wenner van die Crater Cruise in Parys) en Dana Schutte (podiumwenner van verskeie bergfietsresies).

‘n Groot aantal kwaliteit plaaslike ryers wat almal aktiewe of voormalige ryers van die Cape Epic, Sani2C, Berg & Bush, Wines2Whales en Transbaviaans is, het ook ingeskryf. Hulle is Michael Gericke, Elandre Kotzee, Marius Botha, Nico Rust, Lourens Greyling, Stefan le Roux, Emile van Rooyen, Ian Jordaan, Maureen Heyman, Graham Jessop en Andy Fulton.

Inskrywings kan nog die oggend van die resies tussen 06:30 en 07:30 by die wegspring by die weermag gedoen word. Inskrywings wat ‘n verrassingspak vir elke deelnemer insluit is soos volg: 4km pretloop – R20; 10km wedloop sowel as 10km bergfietsresies – R50; 30km bergfietsresies – R100 en 60km bergfietsresies – R150.

Volkies se fietsryspan gaan die 30km aandurf en daag ander skole uit om teen hulle mee te ding. Vir meer besonderhede of om in te skryf kan Wikus by 082 780 0117 geskakel word.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button