Bekende Afrikaanse skrywer oorlede

Wille Martin in Heidelberg oorlede.

Wille Martin (Afrikaanse skrywer) is op 24 Junie in die ouderdom van 81 jaar in Heidelberg Hospitaal aan hartversaking oorlede.

Wille was ‘n bekende skrywer van liefdesverhale, Ou Kaapse romans, spanningsverhale, jeugromans en vervolgverhale. Sy was ‘n bekende in talle tydskrifte en op radiostasies.

Sy is op Bethulie in die Vrystaat gebore en het saam met haar gesin in die vroeë 1940s na Heidelberg verhuis.

Wille se moeder was die bekende skrywer Minnie Postma en haar oupa was Ds Willem Postma, Gereformeerde predikant, oud-taalstryder en rubriekskrywer vir Die Volksblad. Laerskool Willem Postma in Bloemfontein is na hom vernoem.

Wille het ‘n BA-graad aan die Universiteit van die Vrystaat behaal en by die Volksblad as joernalis begin werk. Sy het eers kortverhale vir tydskrifte geskryf waarna sy ‘n roman “Die Jong Eensames” in 1958 publiseer het. Hierna was daar geen keer aan die skrywer in Wille nie en sy het meer as 200 boeke die lig laat sien.

Wille is in 1976 van haar man Earl Martin geskei en het na Heidelberg teruggekeer waar sy by Emmasdal skoolgegee het. Sy het daarna ook by Die Vaderland en Die Transvaler as joernalis en vryskutjoernalis gewerk.

Van Wille se jeugboeke is by skole as bykomende leesstof gebruik en sy het ‘n brons toekenning vir meer as 30 jaar se medewerking van JP van der Walt van LAPA Uitgewers ontvang. Sy het ook ‘n erepenning en oorkonde van die ATKV vir haar diens tot Afrikaans ontvang.

Wille het die laaste paar jaar nie meer voltyds geskryf nie, maar volgens haar vriendin Erika Botha het sy elke dag in haar dagboek geskryf. Sy het tot en met haar afsterwe daarop aangedring om self dorp toe te loop en haar inkopies te doen.

Wille laat drie kinders en vier kleinkinders agter.

Sy is Dinsdag 28 Junie veras en ‘n herdenkingsdiens sal Saterdag deur familie en nabye vriende in Benoni gehou word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version