Nigel se rioolaanleg voldoen nie aan AfriForum vereistes

NIGEL - Die burgerregte organisasie AfriForum het in Maart 2016 die gehalte van drink- (bloudruppel) en rioolwater (groendruppel) in dorpe in Gauteng-Suid getoets.

 

“Ons wil deurlopend verseker dat Suid-Afrikaners se grondwetlike reg op toegang tot skoon, lopende water beskerm word,” het Wico Swanepoel, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng-Suid gesê.

Die resultate het aangedui dat 12 dorpe se water geskik is vir menslike gebruik en dat daar in vergelyking met 2015 se resultate deurlopend goeie waterbestuur toegepas is.
AfriForum het ook die rioolwatergehalte (groendruppel status) in ses dorpe getoets. Daar is bevind dat slegs twee van die dorpe se rioolwater binne die gestelde mikrobiologiese standaarde val. Nigel stel hoë konsentrasie fekale kolivorme in natuurlike waterbronne vry.
Volgens Swanepoel sal AfriForum die nodige stappe neem om toepaslike remedies in werking te stel in die dorpe wat nie aan die standaarde voldoen nie, aangesien die 2016-groendruppelverslag toon dat daar ? afname in watergehaltebestuur is.

“Dit is belangrik dat drink- en rioolwatergehalte deurlopend getoets word. Ons moet hierdie lewensnoodsaaklike bron beskerm en seker maak dat die Bloemhof-gebeure van 2014 nie herhaal word nie,” het hy bygevoeg.

Die uitslag van die 2016 opname dui ’n minimale verswakking aan in die gehalte van drinkwater in Suid-Afrika en ’n minimale verbetering in rioolafvalwaterbehandeling. Die 2016 opname sal gebruik word om dieselfde infrastruktuur en nog meer in die toekoms te monitor. Enige verswakking in drinkwater gehalte kan lewensgevaarlik wees.Dié risiko word veral gedurende 2016 vererger, omdat Suid-Afrika ’n ernstige droogte ervaar met min water wat vir menslike gebruik beskikbaar is.

Die verswakking in veral drinkwater gehalte in gemeenskappe is rede tot kommer. Die grondwetlike reg van toegang tot basiese drinkwater is onbereikbaar, waar water wat wel beskikbaar is, maar egter besmet is, nie hierdie fundamentele reg kan ondersteun nie.
Die volledige Blou en Groen Druppelprojek-verslag 2016 is op hul webblad beskikbaar.

 

Exit mobile version