Lede van Nigel AfriForum loods eerste skoonmaakprojek

NIGEL - Die burgerregte organisasie AfriForum se plaaslike tak het op 19 Maart 'n skoonmaakeenheid op die been gebring om die dorp en omliggende gebiede self skoon te maak.

Dit volg na Nigel Munisipaliteit se traagheid om die dorp na behore skoon te maak en in stand te hou. Verskeie lede van Nigel AfriForum het self moue opgerol vir dié organisasie se eerste plaaslike skoonmaakprojek wat by Nigel Speurtak in die hoofstraat begin en by die gedenkwaardige lokomotief in die Shoprite parkeerarea geëindig het.
Ingevolge die eerste fase van die skoonmaakprojek het die span rommel en vullis in die hoofstraat in swartsakke gegooi en verwyder. Onkruid en gras op die sypadjies is ook verwyder en die area by die lokomotief wat byna deur gras en onkruid toegegroei was, is opgeruim. In hul bydrae het Nigel Afgri ‘n aantal houers onkruiddoder geskenk.


Die skoonmaakspan het uit Gert Toerien, Karen Bothma, George Enslin en Neels Toerien bestaan. ‘n Plaaslike tuindienste onderneming het ook hul gewig by die projek ingegooi en gesorg dat die vullis en onkruid weggery word. Volgens Neels Toerien (voorsitter van Nigel AfriForum) was die eerste projek suksesvol, maar hy het bygevoeg dat dit van kardinale belang is dat die hele gemeenskap by soortgelyke projekte inskakel.
Daar word nog talle projekte vir die toekoms beplan en volledige besonderhede daarvan sal in HERAUT verskyn.

 

Exit mobile version