AfriForum veg vir Nigel

AfriForum Nigel beplan 'n takstigtingsvergadering op 28 Januarie om 18:30. Sluit gerus by dié organisasie aan.

NIGEL – Die gemeenskap van Nigel word genooi om by AfriForum aan te sluit, waar belangrike kwessies onmiddellike aandag geniet.

Belangstellendes is welkom om die vergadering by te woon wat op 28 Januarie om 18:30 by die Kenmekaar Dienssentrum plaasvind.

In ander Afri-nuus, het AfriSake verlede week aangekondig dat dit namens lede en ander belanghebbendes in die landboubedryf kommentaar op die konsep-AgriBEE-sektorkodes gelewer het. Die konsepsektorkodes is op 20 November 2015 deur dr Rob Davies, die minister vir handel en nywerheid, in die staatskoerant gepubliseer.
Dit behels kortliks dat die nuwe kodes strenger reëls op ondernemings in die landboubedryf sal plaas en dit gevolglik moeiliker maak om aanvaarbare BBSEB-tellings te behaal. Die kwessie van aandeel- en grondeienaarskap het weereens aan die orde gekom.

“AfriSake het drie hoofkwessies uitgewys. Eerstens die strenger telkaarte wat dit moeiliker maak vir ondernemings om hul BBSEB-tellings te bereik. Tweedens die kwessie van aandeel- en grondeienaarskap en ten derde die skep van swak beleggingsmoontlikhede in Suid-Afrika indien dié reëls geïmplementeer sou word. Die land kan eenvoudig nie bekostig om meer beleggers af te skrik nie, veral nie in die lig van die huidige ekonomiese probleme waarmee die land gekonfronteer word nie,” het Armand Greyling, AfriSake se wet- en beleidsanalis, gesê.

Volgens Greyling wil dit voorkom asof die regering die Suid-Afrikaanse ekonomiese probleme ter wille van transformasie ignoreer. Die regering behoort eerder op die skep van ’n stabiele beleggingsomgewing vir sowel plaaslike as buitelandse beleggers te fokus. Die nuwe kodes sal die ekonomiese probleme slegs vererger.

AfriSake sal voortgaan om enige wetgewing dop te hou wat ’n invloed op korporatiewe Suid-Afrika mag hê, en poog om waar moontlik kommentaar te lewer om die regte van alle Suid-Afrikaners in die korporatiewe bedryf te beskerm.

Vir meer besonderhede oor die takstigting van AfriForum Nigel, skakel Neels toerien by 072 361 8764

Exit mobile version