MunicipalNews

Kommer oor kanaal voorlopig op ‘n einde

NIGEL - Wat die toestand van die kanaal deesdae betref, is daar ‘n aansienlike verbetering.

Oor die afgelope twee maande is etlike meters van die kanaal (vanaf aansluiting by die Blesbokspruit tot by Eeufeespark Aftree Oord) deur Nigel Stadsraad opgeruim.

“Dit is egter ‘n reusetaak, aangesien die oorgroei van indringerplante en onkruid nie oornag plaasgevind het nie. Daarbenewens was daar vir bykans twee jaar geen instandhouding gedoen nie,” het DA Raadslid Wally Labuschagne tydens ‘n besoek aan die kanaal op 4 November verduidelik.

Dit bly egter kommerwekkend dat inwoners in die omgewing die kanaal as stortingsterrein aansien. ‘n Munisipale werker het aan Wally gesê hy word daagliks deur ‘n vars hoop rommel in die kanaal begroet. Hawelose persone gebruik ook die Rhodeslaan-brug as slaapplek en bemors die gedeelte onder die brug met plastieksakke, papier en leë houers.

Tydens vorige ondersoek is twee plaaslike ondernemings as sondebokke geïdentifiseer nadat spore van chemikalieë en ander vullis in die kanaal gevind is, maar dié probleem is intussen met ernstige waarskuwings deur die plaaslike owerheid aangespreek.

Hoewel die kanaal deesdae met ‘n skoner voorkoms spog, het inwoners soos Bennie Burger sy kommer oor langdurige instandhouding uitgespreek.

“Sodra dit reën, beland grond van die keerwalle weer binne die loop van die kanaal. As dit nie dadelik verwyder word nie, sal geskiedenis homself herhaal. Die stadsraad moet toesien dat die kanaal regdeur die jaar in stand gehou word,” het hy gesê.

Wat rommelstorting en die hawelose besoekers betref, het Wally gesê dat die onus op die plaaslike metropolisie rus om oortreders aan te vat.

HIER IS ‘N UITDAGING AAN PLAASLIKE INWONERS: Neem ‘n foto en stuur dit vir Heraut as jy iemand sien wat rommel in die kanaal stort. Dit is elke inwoner se plig om te sorg dat die kanaal rommelvry gehou word.

Stuur jou foto’s aan Magda Maritz by newsnigel.heraut@lantic.net of skakel 011 814 1020.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto. More »

Related Articles

Back to top button