Tuiste se oudste word 98 jaar

NIGEL - Nigel Tuiste vir Bejaardes se oudste inwoner, Piet Kruger, het op 5 November sy 98ste verjaardag saam vriende en familie gevier.

Piet wat hom in 1992 in Nigel gevestig het, is alom bekend as bouer. Van sy bouwerk sluit die tegniese skool in Rustenburg, talle woonhuise in Nigel, asook die plaaslike inkomstediens (SARS) se gebou in. Hy was ook in die sewentigs by die Hartebeespoortdam-projek betrokke en praat met trots van sy aandeel in dié geskiedkundige projek.

Piet se vrou is in 1988 oorlede. Uit hul huwelik is vier dogters en twee seuns gebore. Twee van sy kinders, Hennie en Liefie, is Nigel-inwoners en Hennie staan sy pa se bouskoene vol. Piet spog met 18 kleinkinders, 24 agterkleinkinders en twee agter-agterkleinkinders.
Wat sy rype ouderdom betref, verklap Piet geen geheime nie.

“Daar is nie ‘n sukses-resep vir oudword nie. Dit is maar net hoe jy jou ou karkas oppas en genade van Bo,” het hy gesê.

Volgens Piet is hy blakend gesond. In sy 98 somers het hy geen ernstige kwaal onder lede gehad nie en was ook nog nooit onder die mes nie.
Bedags hou hy homself met houtwerk besig. Sy kamer is volgepak met selfontwerpte items soos bedlampe, koffietafels, kissies en vele meer.
Tydens HERAUT se besoek het pastoor Rassie Botes (AGS Nigel), Piet as ‘n inspirasie beskryf.

“Oom Piet is ‘n getroue kerkganger. Hy woon elke kerkdiens by en inspireer ander,” het hy gesê.

Piet is ‘n lewendige mens met ‘n passie vir die lewe. Hy het talle vriende by die tuiste en neem ook ywerig aan fondsinsamelingsprojekte deel deur houtitems te maak wat aan die publiek verkoop word.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version