Vossies se krieket eerstes maak geskiedenis

NIGEL - Hoërskool John Vorster se krieket eerstespan het die afgelope seisoen geskiedenis gemaak toe hulle op 24 Oktober in die finale kragmeting van die Easterns krieketliga gespeel het.

Dit was die eerstekeer sedert die skool se bestaan dat ‘n krieketspan tot die finaal deurgedring het.

Die span het hul seisoen met ‘n opwarmingswedstryd teen Boksburg High School op 15 Augustus afgeskop. Vossies het die spel met kolf geopen en ‘n rekordtal van 361 lopies aangeteken – die hoogste aantal lopies nóg deur die span behaal. Boksburg is vir slegs 58 lopies uitgeboul. Met die positiewe oorwinning agter die rug het Vossies die liga met opponente soos Illenge High, Hoërskool Stofberg, Boksburg High School en Tlakula High betree. Van meet af het Vossies gewys hulle is die span om te klop en het 196 lopies teen Illenge op ‘n moeilike kolfblad aangeteken. Illenge is vir slegs 121 lopies uitgeboul. Die volgende kragmeting teen Stofberg was dié belangrikste wedstryd nog. Vossies het die spel met kolf geopen en ‘n totaal van 299 gestel. Stofberg kon slegs 127 aanteken.

Daarna het Vossies ‘n vorige opponent, Boksburg High School in die liga aangepak. Boksburg is eerste ingestuur om te kolf en kon slegs daarin slaag om 128 lopies aan te teken. Vossies het dié totaal gemaklik verbygesteek en ‘n ses paaltjie oorwinning behaal. Die pad na die semi-finale het behels dat Vossies ‘n oorwinning teen Tlakula behaal. Dit sou ook ‘n tuis semi-finaal verseker. Tlakula is eerste met die kolf ingestuur en kon nie meer as 48 lopies aanteken nie. Vossies het dié totaal in ses beurte verbygesteek en ‘n 10-paaltjie oorwinning behaal. Dié oorwinning het vir ‘n tweede inskrywing in die geskiedenisboeke gesorg, aangesien dit die tweede agtereenvolgende jaar was waarin Vossies se krieket eerstespan in die semi-finaal gespeel het.

Tydens die semi-finaal op 17 Oktober het Vossies teen Leeuwenhof Akademie te staan gekom. Vossies het eerste gekolf en spel is op wankelrige bene begin. Na ‘n opdraende stryd het Vossies 182 lopies aangeteken. Kaptein Ruan Kotze het sy staal gewys en 86 lopies (nie uit nie) op sy eie gemoker. Leeuwenhof het daarna die telling van 182 gejaag, maar Vossies was paraat met uitblinker boulers Jaco Botha, Dwayne Rossouw (o/k) en Tiaan Potgieter wat vyf paaltjies geneem het. Leeuwenhof kon slegs 148 lopies aanteken en Vossies se plek in die finale kragmeting was bespreek.
Tydens die finaal wat op 24 Oktober teen Hoërskool Oosterlig gespeel is, het die opposisie spel met die kolf geopen. Goeie boul- en veldwerk het hulle egter tot 119 lopies beperk, maar Vossies kon nie daarin slaag om tydens hul kolfbeurt die totaal te bereik nie.

Vossies se top boulers vir die seisoen is Jaco Botha (17 paaltjies), Dwayne Rossouw (16 paaltjies) en Tiaan Potgieter (13 paaltjies). Die top kolwers is Ruan Kotze (320 lopies), Dwayne Rossouw (167 lopies) en Lean Els (145 lopies). Vyftigtalle deur die seisoen is deur Ruan, Lean, Dwayne en Jaco aangeteken.

 

Exit mobile version