CrimeNews

Gewapende rowers oorval huisvrou in Jameson Park

NIGEL - Hoewel misdaad volgens polisiewoordvoerder A/O Madeleine von Wielligh die afgelope paar weke afgeneem het, was daar geïsoleerde voorvalle van huisbraak en -roof aangemeld.

Een daarvan is ‘n huisroof op 6 September in Jameson Park, waar gewapende rowers ‘n vrou by haar huis oorval, haar vasgebind en van sowat R85 000 se kontant en juwele beroof het.

Volgens A/O Von Wielligh was die vrou omstreeks 11:00 besig om die huis op te ruim, toe sy ‘n geluid by die buitehek hoor. Sy het ondersoek ingestel en haar in drie mans vasgeloop. Een van hulle het sy hemp opgelig en ‘n vuurwapen ontbloot. Hy het die vrou in die rigting van die huis gedwing, waar haar hande vasgebind en ‘n lap in haar mond gedruk is.

Hulle het ook ‘n lap ook haar kop gegooi en elke vertrek in die huis deursoek en kaste uitgegooi. Een van die mans het gesê hulle soek geld en juwele en indien sy nie sê waar die kluis se sleutel is nie, hulle haar sal doodskiet. Die rowers het haar verseker hulle weet sy is alleen en dat haar man nie bedags tuis is nie.

Die vrou het later in ‘n verklaring aan die polisie gesê die mans het alles deursoek tot hulle die kluis se sleutel gevind het. Hulle het kontant en juwele ter waarde van ongeveer R85 000 buitgemaak.
‘n Saak van gewapende huisroof word deur Nigel SAPD ondersoek.

Related Articles

Back to top button