Bakkie eienaar vas na vals verklaring oor kaping

Die eienaar van ‘n Toyota Hilux bakkie wat sy voertuig op 25 Junie by Nigel Polisiestasie as gekaap aangemeld het, is op 18 Julie op klagtes van meineed asook die aflê van ‘n vals verklaring gearresteer.

Dit volg nadat hy dieselfde voertuig drie dae vantevore ook by Bethlehem SAPD as gekaap aangegee het.

Die ondersoek is deur A/O Wilkie Wilkinson van Nigel Speurtak gelei. Hy het kort na die arrestasie bevestiging vanaf die opsporingsmaatskappy ontvang dat die sein op 22 Junie aktiveer is, nadat die eienaar dit as gekaap by die polisie aangemeld het.

Uit die ondersoek het dit aan die lig gekom dat die voertuig by geen kaping of diefstal betrokke was nie en dat die eienaar vals verklarings afgelê het.

HERAUT het op 22 Julie berig hoe lede van Nigel Metropolisie ‘n verlate Toyota bakkie in Laverstraat gevind het. Die polisie het sedertdien bevestig dat dit die beskuldigde se bakkie is wat hy tweekeer as gekaap aangegee het.

Hy het verlede maand op aanklagte van meineed en die aflê van ‘n vals verklaring in Nigel Landdroshof verskyn en die saak is tot 21 Augustus uitgestel.

Exit mobile version