Jong haarstilis van Nigel sterf

Vanessa Saal (27) was 'n bekende haarstilis by Zillion Hair in Nigel. Sy het op 3 Julie by die Chris Hani Baragwanath Hospitaal in Johannesburg gesterf.

Volgens Vanessa se man Eugene, het sy sedert haar kinderjare aan die bloedsiekte anemie gely en het sy gereeld behandeling by die Chris Hani Baragwanath Hospitaal in Johannesburg ontvang.

Sy het egter kort voor haar dood oor pyn in die sy gekla, waarop Eugene haar na die hospitaal geneem het. Na ‘n reeks bloedtoetse is Vanessa opgeneem, maar teen Donderdag het haar toestand heeltemal versleg. Eugene sê hy het ook ‘n verkleuring van die vel en oë by sy vrou opgemerk en vermoed sy het die Hepatitis virusinfeksie onderlede gehad.

Eugene is nie seker wat die presiese oorsaak van sy jong vrou se dood was nie, maar hy het ongeveer 03:00 Vrydag-oggend ‘n oproep vanaf die hospitaal ontvang om hom van Vanessa se afsterwe in kennis te stel. “Haar afsterwe was vir die familie ‘n groot skok, want afgesien van haar bloedsiekte, was sy ‘n baie gesonde vrou. Ons het baie onbeantwoorde vrae,” het ‘n verslae Eugene aan HERAUT gesê.

Vanessa was die ma van vier seuns en het vir die afgelope vyf jaar as stilis by Zillion Hair gewerk. Sy is op 11 Julie by Alrapark Begraafplaas terruste gelê.

Exit mobile version