Local newsNews

Finale afskeid vir Dunnottar polisieman

DUNNOTTAR - Familie, vriende en kollegas is in rou gedompel na die afsterwe van A/O Johannes Hendrik (Assie) van Aswegen op 2 Julie.

Assie (53) het die afgelope 35 jaar diep spore by die Suid-Afrikaanse Polisiediens getrap en was sedert 1996 werksaam by Dunnottar SAPD. Hy was geliefd onder kollegas en sy familie onthou hom vir sy vriendelike geaardheid.

Tipe 1 diabetes (suikersiekte) is jare gelede by hom gediagnoseer, maar hy het die siekte met gereelde toediening van insulien beheer. Gedurende Oktober het die siekte ‘n ernstige en dramatiese aanvang geneem toe swak bloedsirkulasie na sy voete tot amputasie van die regterbeen gelei het.

Die amputasie het egter nie sy passie vir polisiewerk geblus nie en hoewel hy met behulp van ‘n rolstoel moes beweeg, het hy steeds elke dag getrou vir diens aangemeld.

Volgens sy suster was Assie egter onlangs deur ‘n brongiale longsiekte platgetrek en kort voor sy dood het die ander been duidelike tekens van sepsis begin toon. Dit het vermoedelik tot septiese skok en sy ontydige afsterwe gelei.

Vriende en familie het finaal van Assie afskeid geneem tydens ‘n roudiens op 10 Julie by die PPK Rensburg. Hy is by Heidelberg Begraafplaas ter ruste gelê. Hy laat sy vrou Barbara Maryna, vyf kinders en vyf kleinkinders agter.

Related Articles

Back to top button