Stamselskenker bring nuwe hoop vir 5-jarige Bradley

Maande se gewag op ‘n geskikte stamselskenker is verby en vir die 5-jarige Bradley Fourie wat in Oktober 2014 met gekombineerde immuniteitsgebrek gediagnoseer is, is dit ‘n reusestap nader aan genesing.

Toetse om te bepaal of ‘n skenker se stamselle geskik is, was deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Beenmurg Raad (SABMR) gedoen en die Fourie gesin het sowat drie weke gelede goeie nuus ontvang. Alle reëlings is nou in plek en Bradley word op 28 Julie vir die oorplantingsprosedure by die Netcare Unitas Hospitaal in Pretoria opgeneem.

Sedert Bradley se diagnose het die gemeenskap hul harte en beursies oopgemaak en fondse het ingestroom. Dit het die administrateurs van die Bradley Fourie Fund tot dusver in staat gestel om sowat R139 000 aan SABMR vir die oes van stemselle oor te betaal.

“Die wiel is aan die rol en ons is ewig dankbaar vir elke liewe persoon vir hul emosionele en finansiële bydrae om die proses moontlik te maak,” het Vicki Barnard, administrateur van die Bradley Fourie Facebook blad gesê.

Bradley se pad na volkome genesing sal egter nog ‘n ruk neem. Die proses van ’n stamseloorplanting word normaalweg voorafgegaan deur chemoterapie wat daarop gerig is om die pasiënt se beenmurg te vernietig. Vanaf chemoterapie tot na afloop van ’n suksesvolle stamseloorplanting, is die pasiënt weerloos teen virusse en infeksies.

Bradley se toestand sal fyn gemoniteer word om te verseker die nuwe stamselle vind self hul weg na die beenmurg, vanwaar dit sal begin om nuwe bloedselle te genereer. Indien die proses sonder komplikasies verloop, kan dit tot twee weke neem voordat die stamselle nuwe bloedselle produseer en die nuwe selle volwasse genoeg is om hul werk te doen.

Dit kan egter tot twee jaar neem alvorens Bradley uit isolasie kom na die prosedure. Dit sal ‘n kritieke tyd in Bradley se behandeling wees, maar sy gesin is positief en met hoop gevul.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version