Nigel rugbydag lewer skitterspel

Nigel se witwarm eerstespan het teen Oos-Rand Polisie te staan gekom en ná ‘n spogvertoning met ‘n telling van 33-5 as wenners weggestap.

Nigel Rugbyklub se eerstes het koning gekraai tydens hul jaarlikse rugbydag op 14 Maart waar altesaam 20 spanne by John Vorster Stadion kragte gemeet het.

Nigel se witwarm eerstespan het teen Oos-Rand Polisie te staan gekom en ná ‘n spogvertoning met ‘n telling van 33-5 as wenners weggestap. Die puntemakers was Pierre Labuschagne (2 drieë), Clifford Viljoen (2 drieë) en Marcelle Viljoen, terwyl Jason Koen vier uit die vyf drieë verdoel het.

Nigel Rugbyklub se o/20- en tweedespan het die knie teen Germiston Rugbyklub gebuig toe hulle onderskeidelik 38-10 en 40-7 verloor het.

Heidelberg Rugbyklub se eerstespan het op dié dag teen Sasolburg se tweedespan kragte gemeet. Deur puik verdediging het die Berge met ‘n telling van 38-7 gewen. Wayne de Waal (4 drieë), Jason van Jaarsveld, en James Atterbury het elk onder die pale gaan kuier. Van Jaarsveld het vier uit die ses drieë verdoel.

Heidelberg en Nigel Rugbyklub sal nie tydens die algehele afsonderingstydperk oefen of wedstryde speel nie. Skakel Louis Bezuidenhout (Nigel Rugbyklub) by 082 335 0853 of Anita Celliers by 082 409 3603 vir meer inligting.

Jaun Pelser van Heidelberg Rugbyklub se eerstespan laat loop met die bal. Die Berge het met 38-7 teen Sasolburg Rugbyklub gewen.
Exit mobile version